God se Woord in vandag se woorde

Om die trappie nie te mis nie – Romeine 9:30-33


om die trappieKliek hier om die teks te lees: Romeine 9:30-33

Daar’s mos ’n spreekwoord wat sê: “Die luie dra hom dood en die flukse loop hom dood.” Ek is so. Ek hou nie daarvan om die inkopies sakkie vir sakkie uit die kar te laai nie. Ek kyk gewoonlik of ek alles met een slag kan dra. Die meeste van die kere kry ek dit reg, maar soms is die petalje net om die draai.

So moet ek ’n klomp goed gaan aflaai in mense se woonstel. Dis op die eerste vloer en na aan my geaardheid oorpak ek my eie onderstel. Ek beur trappie vir trappie op sonder om lekker te sien waar ek trap. Ek voel trots, dog uitgeput toe ek bo kom. Ek tel spoed op om die goed so gou as moontlik binne die woonstel neer te sit, want sien, my kragte is nou naby aan uitgeput.

Maar toe ek my voet so in die woonstel se deur wil sit, mis my sintuie die ietwat hoër drumpel. Dis eintlik meer as ’n drumpel waar die bouers se skatting van die hoogte tussen die stoep en die woonstel nie in die kol was nie. Op volle vaart en met ’n heeltemal oorlaaide chassi hak my voet vas. Ek besef gou dat hier groot fout aan die kom is. Ek probeer herstel met vinnige voetwerk, maar my ritme is uit en ek vleg soos ’n wafferse man wat hoog in die takke is deur die meubels, maar helaas. Die toe skuifdeur was toe nader as wat ek gedink het…

’n Mens voel darem heeltemal simpel as jy ’n trappie mis of jou voet hak aan een wat net hoër is as die vorige een, met katastrofiese gevolge.

Wanneer Paulus skryf oor God wat ruimte vir alle mense gemaak het, maar dat sommige Hom nie gaan volg nie, onthou hy Jesaja wat die voorbeeld gebruik het van sommige wie se voet gaan vashaak: 33Dit is waar wat Jesaja oor hulle geskryf het: “Oppas! Ek het ’n groot rots daar op die berg Sion, die plek van verlossing, neergesit. As jy nie mooi kyk nie, gaan jy daaroor val. Hy is ’n rots wat vir baie mense aanstoot gee. Elkeen wat in Hom glo, sal nooit oor Hom struikel of val nie.”

Dit is eintlik skokkend om te weet dat daar mense is wat oor Jesus gaan struikel, maar dit is presies wat met die uitverkore volk van God gebeur het. Hulle het die “trappie” gemis. Hulle het geglo dat hulle deur hulle eie werke en deur die wet te onderhou met vlieënde vaandels deur die hekke van die hemel sal trek. Inteendeel, hulle trek toe deur die lig en val hulself te pletter: 31Aan die ander kant het Israel, wat van vroeg tot laat die wet probeer hou het sodat hulle in die regte verhouding met God kon wees, dit nie reggekry nie. 32Hoekom? Wel, omdat hulle die wet heeltemal verkeerd gehou het. Hulle het gedink dat God hulle moes beloon vir al hulle goeie dade. Hulle het nie eens die Messias herken toe Hy voor hulle in die pad kom staan het nie. Daarom het hulle oor Christus gestruikel.

Die Israeliete het die trappie gemis. Hulle het Jesus nie herken nie, in Hom vasgeloop en geval. Hulle het geglo jou plek is in die hemel ge-cover as jy die wet tot die letter toe hou. Maar dit is nie so nie. Ons is te pap in die broek om dit reg te kry. Ons loop en val die heeltyd. Dit is juis die rede hoekom God vir Jesus na die aarde gestuur het. Om namens ons ons plek in die hemel te kry.

Ek smeek jou, moenie dat jou voet oor Jesus hak en dat jy struikel nie. Glo in Jesus! Ek smeek jou om dit aan almal met wie jy in aanraking kom te deel. Gaan opgewonde die wêreld in en orals waar jy gaan, waarsku ander om seker te maak dat hulle in Hom glo en nie oor Hom struikel nie.

Om oor na te dink

Het jy al ’n trappie gemis?

Het jy al oor Jesus gestruikel?

Is daar dalk ander wat jy moet waarsku?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek