Om eerlik onvolmaak te wees
Een van die dinge wat my die hoenders in maak, is wanneer mense so verlief is op hulle eie manier van glo dat ek begin minderwaardig voel oor my manier van glo. Baie mense leef asof hulle al die geestelike kennis het. Die ander moet tog net bykom.
Dit is so verkeerd, want wat hulle nie besef nie, is dat die pad van heiligmaking, die pad om Jesus intiem te leer ken, die pad van doodgewoon glo, eintlik nooit eindig nie. Dit bly ’n proses wat nie ’n einddatum het nie. Selfs die grote Paulus erken dit kliphard: 12Ek wil nie voorgee dat ek geestelik al alles het of al geestelik by die wenpaal verby is nie. In gewone woorde sou Paulus seker gesê het: Did not complete it. Do not have the T-shirt, yet.
Ek besef maar net weer dat ons nie moet dink ons is die enigste mense wat die waarheid beet het nie. Ons self het nog nie eens gearriveer nie. Ons is nog in die proses om van al die waarhede van God en sy Woord te leer. Elke dag kom ons tot nuwe insigte, word nuwe waarhede aan ons oopgebreek en verstaan ons ’n stukkie meer van ons misterieuse God. Ons is nog op pad.
Juis daarom moet ons baie meer ruimte vir mekaar hê. Ons mag van mekaar verskil. Ons kan as familie van God saamleef, al verskil ons soms.
Maak nie saak hoe heilig ’n heilige lewe nie, ons almal is nog deel van die sondige wêreld. Ons almal is nog gebroke, stukkend. Ons gaan nog hier en daar in die gat trap en val. Sommige meer as ander.
13Broers en susters, moenie my verkeerd verstaan nie. Ek wil nie maak asof ek die een is wat volmaak is nie. Allesbehalwe dit! Stukkend, deel van die sondige wêreld, gebroke, trap-in-die-gat mense soos ek en jy.
Ons moet besef dat ons eintlik nie so volmaak is soos wat ons soms wil dink nie. As jy dink jy is volmaak of amper volmaak, gaan jy hard met die grond kennis maak, want dis juis daar wat die duiwel jou gaan vastrap. Hy los jou nooit uit nie.
Ek staan by ’n afgetrede predikant en gesels. Sy oë is groot. Hy sê dat hy nie kan glo hoe die duiwel nie ophou met truuks nie. Hy sê nee, die duiwel kom nie na Hom met stories van ’n bank beroof of skelm wees en sulke groot sondes nie, want hy weet hy staan geen kans op sukses nie.
Nee, op die sagte plekkies. Hy sê daar kom nou die dag (op sy ouderdom) ’n jong dame wat alles op die regte plekke het en wat hom laat goed voel en nou meer tyd met hom wil deurbring en en en… Dis net hier waar hy besef dat hy vêr van volmaak is en sy eie gebrokenheid besef. Hy is nog vêr van die wenpaal af en besef net hoe onvolmaak hy as kind van God nog is.
Ons almal is nog op pad. Ons almal moet nog meer en meer leer. Ons almal moet pasop dat ons nie geestelik hoogmoedig word en dink ons is beter as ander nie. Niemand het nog gearriveer nie. Die wenpaal staan aan die ander kant van ons lewens.
In plaas daarvan dat ons afkyk na ander, kom ons gryp eerder mekaar se hande en probeer mekaar staande hou. Kom ons erken ons gebrokenheid, die stukkendheid van ons geestelike lewens, die onvolmaaktheid en probeer saam met Paulus: 13… alles gee om so te probeer wees.
Om oor na te dink
Dink jy soms dat jy ’n groter stuk van die waarheid beet het as ander?
Besef jy dat jy nog nie by die wenpaal is nie?
Waar is jou stukkie gebrokenheid?
Gebed
Here, ons besef maar net weereens ons onvolmaaktheid. Wys ons waar ons geestelik hoogmoedig wil raak. Vergewe ons dat ons soms dink ons is beter as ander of dat ons ’n groter stuk van die waarheid beet het as ander. Help ons om hande te vat met die wat anders as ons glo, sodat ons juis ons eie gebrokenheid kan raaksien. Amen.