Om God deur jou dade te sien
Wat maak ons geloof anders as ander godsdienste? God het van Sy troon afgeklim en tussen ons kom woon. 9By en in Christus is God ten volle en altyd teenwoordig, ook toe Hy mens geword het.
Jesus was mens, maar ook God. Dit is baie belangrik dat ons dit verstaan sodat ons presies kan weet waarin ons glo. Ons glo nie maar net in ’n goeie man wat goeie dinge op die aarde kom doen het nie. Nee, ons glo in ’n Verlosser en ’n God wat Sy kinders só liefgehad het dat Hy bereid was om tussen Sy geliefde kinders te kom woon. Maar meer nog: Hy was bereid om selfs deur hulle doodgemaak te word juis sodat hulle gered kan word.
Jesus was mens, maar ook God. Dit kan ons juis sien in Sy dade. Mense se nood het Hom tot in Sy diepste aangeraak. Daarom het Hy die siekes gesond gemaak en die hongeres kos gegee. Die wat van die pad af was, het Hy liefdevol God se pad gewys en so gekeer dat hulle in die ewige vuur beland. En Hy het selfs in hulle plek afgedaal na die donker hel.
Niemand hoef te vertel dat God in Jesus was nie. Almal kon dit sien.
Ek wonder watter boodskap my dade vertel oor wie in my bly?
’n Vriend van my het ’n besigheid wat soos enige ander besigheid uitgelewer is aan die ekonomiese welstand van ons land. Dit bly ’n voortdurende gespook om kop bo water te hou. Veral aan die einde van die maand wanneer die krediteure bakhand staan en die salarisse betaal moet word.
So gepraat van salarisse. Een van die mense op sy salarisrol werk nie in sy fabriek nie. Hy is nooit op ’n terrein om te help met die installasies op ’n terrein nie. Nee, hy loop die strate van Pretoria deur om God se verlossende boodskap uit te dra. Hy stuur vir my ’n foto van die man en vier ander. Die pastoor staan met ’n leë kosmandjie. Die vier ander het ’n brood en ’n Coke in die hand. Die boodskap van die pastoor: “Street ministry for those who have no hope in their lifes. They need our prayers. Amen!”
Te midde van ’n gestoei en gesweet om die boeke aan die einde van die maand te laat klop, te midde van uitdagings tuis, hoor my vriend die nood van die mense in die strate van Pretoria. Maar meer nog. Hy doen iets daaraan. Hy stel iemand aan om daadwerklik ’n verskil te maak. Hy betaal sy salaris, gee hom ’n voertuig en betaal sy meenthuis se huur.
Niemand hoef my te vertel wie in my tjommie lewe nie. Ek sien God woon daar, want ek sien sy dade raak.
Deur Jesus se manier van die lewe leef, kon ons sien dat God in Hom woon. Dieselfde is waar van my tjommie. Dan die noodwendige vraag: Wat sien die mense naby my raak? Watter prentjie teken my dade van die persoon wat binne my leef?
Teks
Om oor na te dink
Watter prentjie wys jou dade?
Sien ander dat God in jou woon?
Moet jy veranderinge maak?
Gebed
Vader, ek weet U wil hê dat ander moet kan sien dat U in my woon. Lei my deur U Heilige Gees om altyd so te leef dat U sigbaar is. Amen.