Om God religiously te volg
Partykeer voel ons Christenskap so afgewater. So asof dit nie eintlik iets beteken nie. Ons staan in die oggende op, raak so bietjie stil, maar as ons ons weer kom kry, is ons aan die hol. Ons jaag om die kinders wakker te kry en iets in hulle mae te druk voordat almal met ’n groot gejuig by die deur uitstorm. Dan is dit werk en werk en nogmaals werk. En na die dag se gehollery van die een plek na die ander, sak ons moeg die huis in en probeer asem skep. Ons hoor vinnig hoe elkeen se dag was, druk ietsie in ons maag, kyk TV en dan plons ons op die bed neer. Nog ’n dag is verby.
Klink dit bekend?
Kom ons wees eerlik: Hoeveel plek was daar vir God in die gehollery? Het ek my lewe geleef soos ek wil of het Hy ook êrens ’n bietjie inspraak gehad? Het ek maar gemaak soos ek goeddink, of het ek geluister na die stem van God?
Ek vermoed die oorsaak van die meeste chaos is omdat ons self al die besluite neem. Daar waar ons by die groot besluite by die kruispaaie in die lewe eintlik eers moet stilstaan en vir God vra wat Hy dink, is daar eenvoudig net nie tyd nie. En dit is so. In ons besige wêreld is daar nie tyd om stil te word en te wag op God se fluister nie. Daarom skiet ek ’n gebed op, vra ’n paar pelle om ook te bid en hoop dat my besluit darem êrens met God se besluit connect.
5Nou wil ek ernstig met julle praat: Gaan kyk ’n slag deeglik na julle eie lewe. Glo julle nog? Is Christus regtig in julle?
Maar voor jy te gou ja sê op Paulus se vraag, kyk ’n bietjie na jou eie lewe die afgelope tyd. Wat was die meeste in jou kop? Wat het die meeste energie by jou getap? Hoeveel spasie het God in jou lewe gekry?
En nee, dit beteken nie dat jy nou in ’n skuldgevoel moet neerplons en aan jou polse moet kou nie. Nog minder is dit tyd om alles te los en jouself voltyds vir sendingwerk in midde Afrika aan te meld.
Nee, God wil jou gebruik daar waar jy elke dag jou loop loop. Dis die goeie nuus. Daar waar jy beweeg, gaan God elke oomblik saam met jou. By die werk, om die raadstafel, in die kar met al die duisende ander karre wat saam met jou in die verkeer swoeg, saam met jou gesin, saam met jou vriende.
Ja, orals is God se Gees saam met jou. Hy beleef die gejaag saam met jou en eintlik brand Hy om jou te help met jou keuses, jou woorde en jou dade. Hy steek die heeltyd sy hand op en dink dalk: As Ek net ’n kans kry om iets te sê sal sy soveel meer vrug dra!
7… solank julle net doen wat God wil hê. Dis al wat saak maak. 9 … solank julle net sterk is in julle geloof. … Daarom bid ek dat julle geloof regtig sal begin groei.
Die res is net geraas.
Ons het al soveel keer die boodskap gehoor. Ons weet presies wat ons moet doen. Ons weet ons moet baie meer plek vir God in ons lewens gee en tog raak ons elke keer net aan die hol en wanneer ons eendag weer gekonfronteer word met God, besef ons ons staan steeds op dieselfde plek. Al verskil is dat ons vrek moeg is en min vrede het.
Die vraag is: Hoe gaan ons vir God meer plek gee in ons lewe? Hoe gaan ons doen wat God wil hê ons moet doen? Hoe gaan ons geloof begin groei?
Maak ’n afspraak met jouself en met God. Dalk is dit tyd om elke dag in God se teenwoordigheid te begin en come high, come low dit elke dag religiously (no pun intended) te doen.
Teks
Om oor na te dink
Hoe gaan jy vir God meer plek in jou lewe gee?
Hoe gaan jy doen wat God wil hê jy moet doen?
Hoe gaan jou geloof begin groei?
Gebed
Here, ek trap so gereeld in die gat. Die lewe jaag daar buite en al wat dit sê is: Vinniger, vinniger. Ek is moeg vir die gejaag. Ek wil ook hoor wat U te sê het. Ek wil doen wat U wil hê ek moet doen. Ek wil seker wees wat U wil hê ek moet besluit. Help my om my afsprake met U na te kom. Amen