God se Woord in vandag se woorde

Om Jesus rêrig te ken


Filippense 3:4-11

Wanneer tieners se oë vir mekaar oopgaan, gesels hulle ure en ure aaneen en hulle kan net nie genoeg van mekaar kry nie. Dis asof alles anders minder belangrik word. Hulle wil elke beskikbare oomblik in mekaar se geselskap wees.

Ek dink terug aan dieselfde tyd in my en my vrou se lewe. Ons was ook so. Ons het alles probeer om net bymekaar te wees. Laatnag het soms vroegoggend geword. Ek wou altyd net nog ’n bietjie langer bly. Ek wou alles van haar weet. Ek wou haar stories oor en oor hoor. Ek wou die diepste wese van haar ken. En hiervoor sou ek alles opgee – ook my vryheid as enkellopende.

Dieselfde begeerte het ek ook om Jesus te ken. Ek wil Hom van binne en buite ken, maar om een of ander rede kry ek dit nie reg soos wat ek in die vroeë dae as jong verliefde gedoen het nie.

Ek het vanoggend wakker geword met ’n opregte begeerte om Jesus beter te ken en soos Hy te wees. Ek wil sy hande en sy voete wees. Ek wil ook ’n hart soos Syne hê. En al manier wat ek dit kan regkry, is om Hom beter te leer ken.

Ek val op my knieë en smeek saam met Paulus: 10Een ding wil ek nou regtig graag hê, en dit is om Jesus te ken. Ja! Ek wil vir Jesus ken, maar meer nog: 10… Daardie krag wat Jesus lewend uit die graf laat uitstap het, wil ek ook hê. Vir seker wil ek ook die krag hê. Ek wil nie ’n futlose, niksseggende, pap, kan-niks-regkry, met geen-inpak-verhouding hê nie.

Nee! Ek smag daarna om Jesus so goed te ken, in so ’n sterk verhouding met Jesus te staan dat sy krag aan my afsmeer. Ek wil met alles in my ook soos Jesus sien, praat, voel en vir seker doen. En al manier hoe ons Jesus kan ken, is om tyd saam met Hom deur te bring.

Soos verliefde tieners moet ons tyd maak vir Jesus. Selfs ons eie drome, ons eie begeertes om na die sterre te ryk, moenie ons begeerte om Jesus innig te ken, oorskadu nie. Nee, ons moet bereid wees om alles, maar alles vir Hom op te gee:

10… Ek wil nie weghardloop vir lyding soos Jesus s’n nie, al beteken dit ook dat ek soos Hy moet sterf.

Dis nogal ’n tall order en ek is nie 100% seker of ek mans genoeg is om tot op die einde alles op te gee om Jesus intiem te ken nie.

Maar ek wil. Ek smag daarna om Jesus op so ’n manier te ken dat sy krag aan my sal afsmeer. Dat ek dinge sal sien soos Hy dit sien. Dinge sal hoor soos Hy dit hoor. Dat selfs my gedagtes soos Syne sal word, sodat ek ook sal doen en optree soos Hy.

Dit is slegs moontlik as ek vir Jesus rêrig ken.

Om oor na te dink

Hoe goed ken jy vir Jesus?

Wil jy Hom nog beter leer ken?

Hoe gaan jy dit regkry?

Gebed

O God, hoe smag ek nie om U rêrig te ken nie. Uit die diepste van my wese wil ek U beter leer ken. Ek wil dinge soos U sien. Ek wil soos U dinge hoor en soos U dink, want dan sal ek soos U begin doen. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek