Om jou handbriek los te maak
Kliek hier om die teks te lees: 1 Korintiërs 5:1-5
Die mense van Korinte is redelik van die pad af. Daar is van die gemeentelede wat lekker in die sonde bad en dit is asof die res net hulle oë daarvoor wegdraai. ’n Kind en stiefma leef soos man en vrou saam. Daar is ’n man wat onsedelik lewe en nog vele meer. Paulus sê dat dit nie so kan aangaan nie. Die kwaad moet met wortel en tak uitgeroei word. Selfs die nie-gelowiges begin nou al oor die verkeerde dinge praat.
Een van die groot probleme in ons lewe is dat ons nie altyd weet waar die lyn tussen goed en kwaad getrek moet word nie. Die bril waarmee ons na sonde kyk, is so toegewasem dat ons nie meer duidelik kan uitmaak wat is reg en wat is verkeerd nie. In die wêreld stap almal agter anything goes aan en ons regverdig dit so maklik. Ons het al so gewoond geraak aan die lewe in die wêreld dat die verkeerde reg lyk. Eintlik pla dit ons glad nie meer nie, want eintlik is dit reg so.
Ons elkeen kan dinge in ons eie lewe noem wat nie binne God se wil is nie, maar om een of ander rede kry ons dit reg om daarvoor plek te maak. Ons kyk weg van die negatiewe impak wat dit het en ignoreer eenvoudig die waarskuwings.
Ek dink ons is bang om te kyk. Ons is bang vir die impak op ons lewe as ons dit moet uitgrawe en ontslae moet raak daarvan. Ons is bang dat ons iets of iemand gaan verloor. Ons is bang dat ons na die periferie van die samelewing gestoot gaan word. Ons is bang vir die alleen wees op die rand van die lewe. Daarom lig ons ons oë daaroor en maak of dit nie bestaan nie. Dit is presies wat die ouens van die kerk van Korinte gedoen het. Hulle het eenvoudig net oor die ouens gekyk wat so in die sonde bad.
Maar wat ’n mens nie besef nie, is dat dit ’n negatiewe impak op ’n mens se lewe het en daarmee saam word ’n klomp seëninge van God ons ontneem. Daarom, as jy ernstig is oor jou kindskap van God en as jy binne sy wil, wil lewe, moet jy erns maak met dit wat nie reg is nie. Jy weet wat dit is. Dit pla al lankal.
Gelukkig is daar ’n stuk troos: 4… Die Here Jesus sal vir julle die krag gee om te doen wat reg is.
Dit lyk dalk soos ’n berg wat voor jou lê. Dalk wil jy eerder net ’n kombers daaroor trek en aangaan met jou lewe, want dit is net te swaar om uit te grawe. Eintlik voel dit vir jou of dit onmoontlik is. Tog is dit moontlik. God sal jou krag gee om dit te doen. God sal jou nie op jou eie los nie. God sal aan jou krag gee om die stuk onkruid in jou lewe uit te ruk. God sal jou ook lei om die regte goed te begin doen.
Daar sal dus nie ’n leë gat in jou lewe wees waar die onkruid uitgeruk is nie. Nee, die belofte is dat God jou sal help om die gat weer op te vul met die regte dinge. Waar daar voorheen heeltyd iets was wat jou teruggehou het en jou spoed gebreek het, sal daar nou nuwe dade opkom wat jou krag sal gee, wat jou energie sal gee en waarop jy saam met God trots kan wees.
Soos ’n handbriek wat losgemaak word, sal jy vol spoed die lewe kan inhol en vreugde en vrede saai. God het jou gehelp om van al die verkeerde goeters in jou lewe ontslae te raak. Jy leef nou weer binne God se wil. Die lewe is anders, want jy is anders.
Om oor na te dink
Waar lê die sonde in jou?
Glo jy dat God die krag sal voorsien om dit uit te ruk?
Waar moet jy begin?
Kruisverwysing
Gebed
Vader, ek weet waar die dinge lê wat pla. Ek wil van elkeen ontslae raak. Ek weet U wil dit ook nie daar hê nie. Dankie vir die belofte dat U my daarmee help. Ek wil nou daaraan begin werk. Ek sien uit daarna om dit wat my spoed breek, uit te ruk en af te kap. Amen