God se Woord in vandag se woorde

Om jou sleutel weg te gee – Romeine 9:1-13


om jou sleutel weg te gee

Kliek hier om die teks te lees: Romeine 9:1-13

Daar is soveel mense daar buite in die wêreld wat pad af is. Daar is mense wat kliphard uitroep en sê dat hulle niks met God te doen wil hê nie. Daar is baie mense wat dit nie so kliphard uitroep nie, maar tog wys hul dade nie ’n mooi storie nie. Kom ons erken dit nou maar. Die wêreld daar buite het nie meer ruimte vir Jesus en vir God nie. Die wêreld is net gemoeid met hul eie lewe en daar is nie plek vir God nie. Eintlik staan God in hul pad.

Sjoe, dit klik darem nie mooi nie. En tog is dit die waarheid.

Dit maak ’n mens se hart seer om te sien hoe mense God uit hul lewe stoot. Dit is nie lekker om te sien dat mense so met God se genade mors nie. Ek wonder baie keer hoe sy hart voel as mense so mors. Ek wonder hoeveel trane rol oor God se wange vir die mense vir wie Hy so lief is en wat al die genade net so in sy gesig teruggooi.

Ek wonder of dit jou ook raak?

Vir Paulus was dit baie erg dat God se mense, die Israeliete, so vêr pad af is. Hy kon nie verstaan dat die mense nie meer kan onthou van hulle voorvaders Abraham en Isak nie. Hy kan nie glo dat hulle die Een wat uit hulle volk gekom het en die verlossing van die hele mensdom na die aarde gebring het, net so kan afskryf en sy sterf aan die kruis met ’n groot uitveër eenvoudig net kom uitvee nie.

Dit maak sy hart so seer.

1Ek wil nou met julle praat oor ’n groot probleem wat ek al lankal hier binne-in my ronddra. 2Dit krap my baie om. Die Heilige Gees weet dit. My probleem is Israel. 3Israel, my broers, my bloedfamilie saam met wie ek grootgeword het. Maar baie van hulle glo nie in Christus nie. Ag, was ék maar deur Christus vervloek in plaas van hulle. Ek sal enige tyd my plek in God se nuwe wêreld aan hulle afstaan.

Ek wonder of die mense om jou, jou raak?

Is jy bereid om soos Paulus jou plek op te gee in die hemel? Sal jy ten koste van ander die ewige verderf instap? Sal jy vir die een wat jou uitvloek, op jou skree en met jou spot, jou kamer in die ewige lewe se sleutel gee?

Ek wonder of ek sal?

Hierdie is dalk net so ’n bietjie van ’n wakker skud. Ons oë word oopgebeur om raak te sien wat om ons aan die gang is. Vriende en mense wat saam met ons werk of dalk ’n familielid wat nie in die wil van God wandel nie. Ons moet hulle waarsku.

As jy sien iemand se kar se handbriek het losgegaan en dit pyl direk op iemand daar langs jou af, sal jy die persoon, vriend, familie, vreemdeling uit die pad stamp?

Ja, vir seker sal jy dit doen!

Nou, as jy sien die ewige dood is besig om op hom of haar af te pyl, hoekom stamp jy nie die persoon uit die pad van die dood binne die pad van die lewe nie?

Sjoe, dis baie vrae met antwoorde wat ek sukkel om te kry. Dalk was dit goed om hiermee gekonfronteer te word. Dalk is dit nou die tyd dat ek iets begin doen en ten spyte van myself, ander te help om die ware Lig te ontdek.

Om oor na te dink

Verstaan jy jou opdrag?

Is jy bereid om jou plek op te offer?

Wie moet jy gaan wakker skud?

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek