Om met geloof te sien
Ek is ’n boer in murg en been. Ek het die 12 jaar as plaasbestuurder op die twee wonderlike wynplase in die Boland so geniet. Deur die jaar werk jy hard. Dis eers snoei dat jou hande in die vroegmôre stokstyf staan.
Kort daarna begin die vaal, lewelose stok botseltjies maak en ewe skielik bars die groen uit sy nate uit. Dis asof die stokke hulleself nie kan inhou nie en die lewe en krag binne hulle, net moet uitkry. Soggens as dit so stil is en die son nog effe agter die berge wegkruip, is dit asof jy die blare hoor uitkruip. Hoor groei.
En dan begin die klein korreltjies boepens stoot en jy weet parstyd is naby. En as die rooi kleur in die korrel se vel sy lê kom maak, weet jy: Kry reg die parswaens en parsskêrtjies – die druiwe moet in die kelder kom.
Wanneer die mense vroegoggend opgewonde saam gesels, die reuk van dieseldampe van die trekkers jou neusgate vul en die eerste druiwe in die wa plons, raak ek stil. Ek kyk weer terug oor die jaar en dan sê ek: Daar moet ’n God wees!
Ek is ’n boer in murg en been. As ek sien die reën is op pad, sleep ek die 50-kilogram kunsmissak nader en saai die sout (soos die plaasmanne dit noem) dat dit doer trek. Die plante, bosse en bome staan geil van dankbaarheid in my tuin hier in ons mooi dorp met sy berge wat die agtergrond so mooi inkleur.
Die vaal, groen blare van die amaryllis merk ’n mens nie op nie, totdat jy een oggend so ’n lang dik stam raaksien. Dan weet jy dis op pad. Jy kan eintlik nie wag nie. Die geboorte van ’n mooi, nuwe lewe is om die draai.
En dan gebeur dit. Uit die groen knop bars lewende, rooi blare wat in perfekte harmonie saamgegom is om ’n onbeskryflik pragtige blom te vorm. Kordaat staan die stuifmeeldraadjies en roer in die wind. Uitlokkend en wagtend vir die bye om die res van die ketting te kom klaarmaak.
Ek kyk so oor my tuin en dan sê ek: Daar moet ’n God wees! Daar moet ’n Skeppergod wees …
Dan kan ek nie verstaan hoekom daar mense, baie mense, is wat die Skeppergod miskyk nie. Is hulle blind of smokkel hulle kop te veel met hulle? Steek hulle vas in hulle eie verkreukelde denke of het hulle eenvoudig net nie die vermoë om die kloutjie by die oor uit te kry nie?
Nee, dit het eintlik alles te make met geloof. Geloof in God maak dit vir ’n mens moontlik om die kloutjie by die oor te kry. Wanneer jy deur die bril van geloof na die skepping kyk, vee dit die wasigheid wat ander sien, weg en sien jy God se hand in alles.
3Omdat ons glo, weet ons dat God die wêreld gemaak het deur net te sê dat dit daar moet wees, en dit was daar. Dit is nie gemaak uit iets wat ons kan sien nie.
Dalk moet ons ons brille afhaal en so ’n bietjie vir die mense om ons leen. Dalk begin hulle ook vir God raaksien.
Teks
Hebreërs 11:1-6
Om oor na te dink
Kyk jy deur die geloofsbril?
Hoe sien jy vir God raak?
Vir wie moet jy jou bril leen?
Gebed
O God, grote Skeppergod! Hoe groot is U Skepping nie! Dit skilder elke oomblik vir ons ’n prentjie van U en hoe wonderlik is dit nie. Aan U behoort al die eer. Ja, vir seker, soli Deo gloria. Amen.