God se Woord in vandag se woorde

Om met ‘n sak vol respek op te tree


1 Korintiërs 11:1-16

Paulus raas met die vrouens wat nie hoede gedra het nie en sommer ook met mans wat óf met goed op hulle koppe bid óf lang hare het. Is dit steeds van toepassing op ons vandag? Want as dit so is, is daar ’n klomp dames wat nou moet gaan hoede koop. En dan was ek in my studentedae lekker van die pad af met my lang hare.

Dit is belangrik om verantwoordelik met die Skrif om te gaan en nie elke sinnetjie letterlik op te neem nie. Ons moet besef dat die Bybel in die konteks van 2 000 jaar gelede geskryf is. Hulle het toe anders gelewe en ander gebruike gehad. Wanneer ons dan lees dat Paulus se vrouens hoede moet dra en mans kort geskeerde hare moet hê, beteken dit nie dat ons weer dieselfde gebruike moet aanneem nie. Nee, ons moet na die beginsel daaragter gaan kyk en die beginsel hier is: Respek. Ons moet respek vir mekaar hê, maar veral ook vir God. 4As enigiemand met God of oor God praat sonder die nodige respek, respekteer hy ook nie vir Christus nie.

Ons moet onthou wie God is. God is nie ons maat nie. God is nie die buurman met wie ek gou hier oor die draad staan en gesels nie. Nee, God is die Almagtige, die Skepper en Hy verdien om met respek behandel te word. Wanneer ons dan God se Naam ydellik gebruik bv. as ons skrik, of wanneer ons verbaas is of sy Naam as ’n voegwoord en ’n punt gebruik, het ons geen respek vir Hom nie.

Toe Moses in die woestyn stap en die brandende bos sien, het hy kordaat nader gestap om te sien wat daar aangaan, maar toe Hy God se stem hoor, het hy nie gewag nie. Hy het dadelik op die grond neergeval en sy skoene uitgetrek. Dis respek. Ek dink ons probleem is dat ons God as ons maatjie sien. Ons tjommie van om die hoek en daarom tree ons sommerso op en praat net so in die lug wanneer ons wil met God. Dit is nie reg nie. God bly God, al het Hy aarde toe gekom en vir al ons sondes kom sterf. Al het Hy ons hand kom neem en al stap Hy met sy Gees elke dag saam met ons, bly Hy God en ons moet Hom met respek behandel.

Wanneer ons dit regkry, gaan ons mekaar ook met respek behandel en dan sal ons kinders dit ook makliker regkry. So baie kinders weet nie van respek nie, want hulle sien dit nie in die huis gebeur nie. Veral nie in die verhouding tussen pa en ma nie. Dis jammer.

Ons het ’n tyd terug ’n studeerkamer aangebou en dit as ’n geleentheid gesien om ons kinders iets te leer. Hoe hanteer jy almal wat ewe skielik op jou werf is? Ons leer hulle dat dit nie saak maak hoe die manne in hulle werksklere lyk en hoe vol stof hulle is nie, jy behandel hulle nog steeds as jou meerdere, iemand wat ouer is, iemand by wie jy kan leer hoe jy vir jou geld werk en hoe jy jou talente gebruik.

As ons bietjie nadink, sal ons dalk moet erken dat ons ons respek vir ander moet afstof. Ek wil so graag hê dat ander mense vir God deur my manier van doen moet raaksien. Daarom moet ek op my hoede wees en elke keer vra of my optrede teenoor ander genoeg respek uitstraal, of dit nou die bouers is en of dit teenoor my vrou of kinders is, want dit vertel die storie van my respek vir God.

Om oor na te dink

Hoeveel respek het jy vir God?

Hoeveel respek het jy vir jou eggenoot, vriend, kollega, vreemdeling of kinders?

Kan mense jou respek vir God raaksien deur jou optrede teenoor ander?

Gebed

Here, ek weet dat my respek vir U soms van die wa afval wanneer ek met ander kommunikeer, veral as ek nie my sin kry nie. Ek het U lief en wil U respekteer. Help my om soms net terug te staan en eers stoom af te blaas voordat ek te vinnig begin hol en buite beheer raak. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek