God se Woord in vandag se woorde

Om met vrede die wêreld in te loop


Efesiërs  6:10-20

Of ons dit nou besef of nie, ons is elke dag in ’n oorlog gewikkel. Die duiwel en sy trawante is die heeltyd besig om ons van die pad af te lok. Op slinkse maniere probeer hulle ons van God wegrokkel. Om voorbereid te wees op die stryd is dit so belangrik dat ons die wapenrusting sal aantrek. Die eerste twee stukke van die wapenrusting was die belt van die waarheid en die borsstuk van geregtigheid. Nou kom ons by die skoene.

Die beskerming van die voete vir die Griekse soldate was baie belangrik. As daar fout kom met die voete, maak dit nie saak in watter goeie kondisie die res van die liggaam is nie, want die res van die liggaam kon nêrens heen gaan as die voete dit nie kan dra nie. Daarom het die soldate spesiale skoene van leer en yster gedra om hierdie baie belangrike deel van hulle liggaam te beskerm.

In die geestelike mondering is dit ook van kardinale belang dat dié gedeelte van die liggaam ekstra beskerming sal geniet: 15Jy moet altyd gereed wees om vir ander te vertel van die vrede wat Jesus vir ons bring. Dit moet soos die skoene aan jou voete wees.

Wanneer ’n mens na die oorspronklike teks kyk, word die frase direk vertaal as voorbereiding vir die Evangelie van vrede. So voordat ons die boodskap aan ander kan gaan uitdra, moet ons onsself eers in die boodskap gaan ingrawe. Ons moet seker maak dat ons presies verstaan wat God hier vir ons wil leer.

Hoe meer tyd ons in iemand se teenwoordigheid is, hoe meer word ons soos hulle. My suster koop vir haar ’n nuwe kar en stuur ’n foto vir ons familie-groepie via WhatsApp. Die een suster lewer kommentaar en sê dat die suster met die nuwe kar net soos ons ma lyk. Sy laat weet terug dat dit frightening is om te sien hoe baie sy soos ons ma geword het.

Jy sien, hoe meer tyd ons met die Woord van God deurbring, hoe beter berei ons ons voor op die lewe daar buite. Hoe meer tyd ons met die Woord deurbring, hoe meer word ons soos Jesus. Henry (e-Sword) beskryf dit soos volg:

The preparation of the gospel of peace signifies a prepared and resolved frame of heart, to adhere to the gospel and abide by it, which will enable us to walk with a steady pace in the way of religion, notwithstanding the difficulties and dangers that may be in it.

Wanneer ons die verlossingsboodskap van vrede ernstig opneem en goed verstaan, raak ons sterk genoeg om deur die wêreld te stap. Dan kan ons nie maklik deur slinkse plannetjies ge-trip word nie. Dan ervaar ons die boodskap van verlossing in ons lewe.

Te midde van die woeste wêreld daar buite waar dit nie altyd gaan soos ons hoop en wens dit moet gaan nie, kan ons vrede hê. Waar besighede vou, waar mense se verhoudings uitmekaar geskeur word, waar trane loop en erge dinge ons tref, kan ons steeds by vrede uitkom. Dit maak nie altyd sin nie, maar met God se Woord aan ons voete gebeur dit net.

Miskien moet jy dit ook probeer…

Om oor na te dink

Hoe lyk jou skoene?

Deurstaan dit die toets van die tyd?

Hoeveel vrede los jy agter?

Gebed

Here, die vrede wat U na die wêreld toe gebring het, is beskikbaar vir elkeen van ons. U wil hê dat ons dit moet deel maak van ons verhoudings en van ons hele bestaan. Mag U Heilige Gees ons bystaan in die najaag van vrede. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek