God se Woord in vandag se woorde

Om moed te skep


Filippense 1:12-18

Paulus se gevangeneskap het soms vir homself te veel geraak. Soms was hy onseker en hy het gewonder of alles die moeite werd was. Soms was sy gemoed tussen die vloer en die politoer. Maar dan was daar tye soos die wat hom weer moed gegee het: 14… Hulle sien dat daar selfs iets goeds van kan kom om in die tronk te sit. Dit laat hulle moed skep. Hulle is nie meer bang om oor Jesus te praat nie. Waar hulle vroeër maar stilgebly het omdat hulle te bang was, begin hulle nou al hoe meer oor Hom praat.

Daar is tye wat ek ook so bietjie mismoedig is en wonder of alles die moeite werd is. Tye wat my swaar (wat eintlik glad nie so swaar is nie!) te swaar druk. Dis in tye soos die wat ander se klein briefies aan my my weer laat opstaan en die lewe in die oë kyk. Ek kry hierdie epos van Chrissie:

As ek op my lewenspad teruggaan, is God wonderlik.

Histerektomie en Mastektomie met 3 klein kindertjies. Maar my wonderlike man help my deur alles. Hy staan my vandag nog by.

In 2009 is ons 8 dames in ’n kombi op pad terug van opleiding. ’n Groot trok met ’n sleepwa maak ‘n U-draai en ons 8 ry vas in daai trok. Een verloor haar lewe. Ander het ernstige besering met operasies wat volg. Ek het 8 rugoperasies gekry. Maar vir God is niks te veel nie.

Ek word ernstig siek met Osteo-artritis, Parkinson’s epilepsie en verkalkte are in my kop.  Maar God help.

Ek word aangeval op my plaas met my eie vuurwapen teen my kop, maar God spaar my.

Sjoe, dis baie swaar die. Die volgende staan soos gloeiende ligte vir my uit:

  • As ek op my lewenspad teruggaan, is God wonderlik.
  • In God se hande is niks te veel nie.
  • God help my.
  • God spaar my.

Chrissie se e-pos het my baie bemoedig.

Mag ons die swaar in die lewe so leef dat ander daardeur moed kan skep!

Om oor na te dink

Kry jy swaar?

Bemoedig jou manier van lewe ander?

Staan ander op as gevolg van jou?

Gebed

Vader, dis weer tyd om te bieg, want ek gooi gereeld my speelgoed uit die cot as dit nie goed gaan met my nie. Ek dink nie my manier van lewe bemoedig altyd ander nie. Inteendeel. Tog wil ek soos Chrissie ander bemoedig en hulle ook tussen die vloer en die politoer uithaal met my voorbeeld. Op my eie kan ek dit nie regkry nie. Daarom vra ek dat U my asseblief sal help. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek