Om ‘n verskil te maak
Daar kom tye in ’n mens se besige lewe dat jy ’n afspraak met jouself moet maak om tyd te kry om oor die lewe te besin. Om ’n voëlvlug oor jou lewe te neem en te sien waar jou tyd ingaan, wat jy doen en waar jy ’n verskil gemaak het. Die inligting moet jy dan gebruik om ’n paar aanpassings te maak indien nodig sodat jy tevrede kan wees aan die einde van jou lewe.
Dit is wat die mense van Korinte moes doen. Paulus het hulle oë teruggedraai na die manier hoe hulle aangaan: 21… Sonder om om te gee of jou medegelowige langs jou doodgaan van die honger, sal jy jou trommeldik eet en nog te veel wyn ook drink. Maar jy sal nie daaraan dink om vir hom langs jou ook ietsie aan te bied nie. 22Hoekom gaan jy dan nie maar liewer huis toe en gaan eet jou daar trommeldik en drink daar jou wyn alleen op nie? Is dit vir julle lekker om op hierdie manier die arm mense te verneder wat nie soveel kos soos julle rykes het nie?
Ek wil myself dadelik van die gesprek verskoon, want ek doen darem nie dit nie! Ek sal nie ten koste van armes myself trommeldik eet nie, wat nog te sê van die wyn in oormaat drink. Nee, ek probeer regtig my bes om op ander mense ingestel te wees.
Dalk is ek reg en hoef ek my nie veel aan Paulus se tirade te steur nie. Maar dalk moet ek soos wat ek in die eerste paragraaf gesê het, eers ’n afspraak met myself maak en ’n voëlvlug oor my lewe neem om seker te maak dat ek nie wel hier en daar die armes vergeet het nie.
Ek stop ’n tyd terug by iemand se huis en druk die klokkie, maar dit werk nie. Ek moes later amper die venster afbreek om sy aandag te trek. “Nee,” sê hy, “ ek het die battery uitgehaal, want die mense kom vra net kos.”
Ek wonder by myself of hy al ooit in sy lewe een nag honger gaan slaap het?
Dalk vertel die gedeelte so ietsie van my gedrag ook. Ek kyk terug oor die week toe my voordeur klokkie (dit werk darem) ’n paar keer gelui het. As ek vinnig verby die binnedeur stap, kan die besoeker my gewoonlik nie sien nie, maar ek kan ’n idee kry van wie daar staan. As dit iemand is wat ek nie ken nie, maak ek dikwels nie oop nie.
Ek weet, ek het ook nog nooit honger gaan slaap nie.
Ons raak so gewoond aan ons eie manier van lewe dat ons nie besef dat ons arm mense uitsluit nie. Die mure rondom ons huise is letterlik en figuurlik so hoog gebou dat ons nie eers meer die arm mense kan raaksien nie.
Ek praat met ’n ontwikkelaar in die dorp. Hy is geseënd met baie. Hy sê hy is dankbaar dat die Here hom talente en kanse gegee het om suksesvol te wees. Nou kan hy soveel meer doen vir die mense wat nie so bevoorreg soos hy is nie. My mond het oopgehang.
Dis wat ons elkeen moet doen. Ons moenie wegstap of wegkyk van die wat minder bevoorreg as ons is nie. God het ons gehelp om te kom waar ons is en dit het nou tyd geword om terug te betaal, nee, nie omdat ek my skuld daarmee afbetaal nie, maar omdat ek dankbaar is vir wat God vir my gedoen het. En om getrou te wees aan die opdrag wat God vir ons elkeen op die tafel neergesit het.
Om oor na te dink
Is daar plekke wat jou klokkie intensioneel nie werk nie?
Waar kan jy arm mense raak leef?
Wat kan jy doen om jou gawes te laat werk?
Gebed
Here, ek weet dat my lewe soms te besig is om nog iets te doen vir die armes. Dis nie reg nie. Help my oë om die nood raak te sien. Gee my die wil om regtig iets te wil doen. Amen