Om op ander ingestel te wees – Romeine 15:1-6
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 15:1-6
Ek onthou nog toe ons na ’n nuwe gemeente op die dorp geskuif het. ’n Mens voel mos vreemd en weet nie wie kyk vir jou en wie nie. Dis seker hoe ’n graad eentjie voel wat die eerste dag skool toe te gaan. Alles is so vreemd en die trane naby oorloop. Die meeste mense is net nie gebou om nuwe situasies soos ’n walk in the park te stap nie.
Dieselfde geld natuurlik vir jong Christene. Vir hulle is almal vreemd. Hulle weet nie wat van hulle verwag word nie. Hulle is bang hulle staan as die hele gemeente sit. Paulus gee dus raad: 2… Daarom moet ons alles in ons vermoë doen om te sorg dat ander gelowiges ook gelukkig is. Dit is ons plig om hulle geloof sterk te maak en op te bou.
Dit gaan egter oor meer as net sensitief wees vir nuwelinge wat by die kerk instap. Paulus is baie ernstig dat ons ’n hele omwenteling moet maak en ander moet eerste stel. Hy herinner ons dat die hele wêreld nie om onsself draai nie. Ons fokus moenie wees oor wat ons kan kry nie, maar eerder wat ons vir ander kan doen.
Dis wat Jesus gedoen het. 3Christus het presies dit kom doen toe Hy op aarde was. Hy het nie na sy eie belange omgesien nie, maar na dié van ander. Dit is soos die Bybel sê: “Al die beledigings wat die mense na u kant toe gegooi het, het Ek gedra. Dit het alles op My afgekom.”
Ter wille van jou en my het Jesus al die beledigings gevat. Ter wille van my en jou het Hy die sweepslae en spoeg gevat. Ter wille van my en jou het Hy die dood op sy skouers geneem. Jesus het gelewe en gesterwe en opgestaan ter wille van ander mense.
Nou is dit ons beurt om te wys hoe dankbaar ons is vir Jesus wat so baie namens ons gevat het. Dit is ons beurt om eerste aan ander te dink. As ek stilsit en myself uit die pad het, staan ’n klomp van die mense naby my op:
- Ons buurvrou wie se man terminaal siek is
- my vriend wat op pad is uit Transkei en iemand nodig het om te luister
- ’n werknemer wat ongelooflike finansiële probleme het
- kerke wat in doodloopstrate is
- en nog ander wat dalk te naby is om oor te skrywe.
Dink ’n bietjie waar Jesus die meeste van die tyd was. Hy het nie in die kerk rondgehang en teologiese gesprekke met die kerkmense gevoer nie. Nee, hy was in die strate by die mense wat pad af was. Baie male was dit die prostitute en straatmense, die verlamdes en die hongeres.
Ek het ’n vriend wat baie vir ander mense omgee. In ’n stadium kry ek e-posse wat ander aan hom geskryf het onder oë:
- Dankie vir die tyd wat jy aan my afgestaan het. Dit het my laat dink en herbesin oor my huwelik. Ek het besluit om nie my huwelik te los nie. Ek sal dit nog ’n kans gee. Ek is weer lus om hard daaraan te werk.
- Die gesprekke wat jy spesiaal met my gevoer het, het vrugte afgewerp. Ek het besluit om my lewe te verander en volg nou vir God. Dankie vir al die moeite wat jy ontsien het. Dankie dat jy nie aan jouself gedink het nie, maar elke keer as ek aanklop alles neer te sit en al jou aandag op my te vestig. Dankie vir die voorbeeld. Ek sien uit na my lewe as kind van God.
Hierdie vriend van my is vir my ’n voorbeeld van hoe ’n mens op ander ingestel moet wees en watter radikale ommekeer in ander kan plaasvind.
Wat ’n besondere getuigskrif is dit nie van die vriend van my nie. Onbaatsugtig oor sy eie tyd met net die ander persoon in die oog. Dit is hoe ons ook moet wees. Soos Jesus moet ons eers aan ander dink. Die wêreld sal so anders wees.
Om oor na te dink
As jy jouself met jou behoeftes uit die prentjie haal, wie sien jy raak?
Is daar iemand wat iets van jou nodig het?
Tyd, geld, kennis, gebed, gesels, ruimte, geloofsgesprekke?