Om op die Wortelstok geënt te wees – Romeine 11:11-24
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 11:11-24
Baie min mense weet dat omtrent alle wingerdstokke geënt is. Op die plaas het ons altyd gepraat van die wortel gedeelte as die wilde stok en die gedeelte wat die vrug dra is die mak gedeelte. Die kwekers kweek ’n klomp onderstokke, dis nou die wilde gedeelte wat die wortels vorm. Wanneer die stokke goed begin groei, word die gedeelte wat die blare dra afgesny en word daar ’n mak stok, die gedeelte wat die vrug dra, bo-op die stok geënt.
Nou wonder jy seker hoekom dit so gedoen word. Jy sien, die stokke wat goeie wortelstelsels het, het gewoonlik nie lekker vrugte nie. Sommige van hulle het geen vrugte nie. Die soort word baie keer gebruik vir priële wat skaduwee moet gee in die somer. As daar nie vrug is nie, is dit ’n bonus, want dan kan die voëls nie teen die wit mure mors nie.
Aan die ander kant het die stokke met die mooi vrugte baie keer nie goed ontwikkelde wortelstelsels nie. Die stokke kry vinnig swaar, die druiwe lyk ook gou sleg en jy kan nie veel daarmee maak nie. Daarom is dit ’n goeie plan om eerder die stokke met die goeie wortelstelsel te gebruik as onderstok en die wat goed is met vrugte dra, as die bo-stok te gebruik. So word elkeen toegelaat om ’n positiewe bydrae te maak.
Dit is interessant om te sien dat daar in die Bybelse tyd alreeds van die tegnieke gebruik is en daarom gebruik Paulus dit as ’n voorbeeld om aan die Romeine te verduidelik wat in God se Koninkryk aan die gang is. Hy gebruik die olyfboom as voorbeeld. Hy sê God se Koninkryk is soos ’n olyfboom. Wanneer God sien dat daar van die takke is wat nie vrug dra nie, saag Hy hulle af. Die takke verwys na die volk van Israel wat hul rug op God gedraai het en nie vir Jesus as die Verlosser geëer het nie. Vir hulle is daar nie meer plek in God se boom nie en hulle word een vir een uitgesaag.
Dit is darem jammer dat die Jode so van die pad af is.
Maar soos hulle sê: die een se dood is die ander se brood. Met die uitsaag van die takke wat nie wou vrug dra nie, is daar plek gemaak vir ander wat wou en kan vrug dra. Ander volke het nou ook ’n kans gekry om deel te word van God se boom, van sy Koninkryk. 19Miskien sal jy sê: “’n Klompie takke is afgebreek om vir my plek te maak.” Goed. 20Jy’s reg. Hulle is uitgekap omdat hulle nie geglo het nie, en jy is in die olyfboom ingeplant omdat jy glo. Maar dit moet jou juis nederig maak. Jy moet groot eerbied vir God hê.
Dis wonderlik! Ons het ’n plekkie gekry in God se boom. Ons is op die moederstok geënt en kry nou die kans om vrug te dra. Dit is deel van God se genade. Maar nou moet ons uithaal en wys en ons ding doen. Ons moet glo. Ons moet na God luister. Ons moet vrug dra dat die biesies bewe, want… 21Onthou: God het nie gehuiwer om daardie ongelowige Israeliete uit te kap nie. Dink jy Hy sal anders met jou maak as jy nie na Hom luister nie?
Tussen die dankbaarheid dat ons ’n kans gekry het is daar ook ’n waarskuwing. Laat ons ons bes doen. Laat ons seker maak dat ons geloof vasstaan in God. Laat ons stil en nederig hang. Laat ons seker maak dat ons vrugte mooi is en ’n verskil maak in die Koninkryk, want dan sal die Boer tevrede wees en eers met die saag verbystap.
Om oor na te dink
Is jy op die moederstok geënt?
Hoe lyk jou vrugte?
Is jy nederig?