God se Woord in vandag se woorde

Om prentjies te teken


Efesiërs  6:1-9

Ek was op skool nie die skerpste potlood nie. Op Universiteit het ek my drie jaar BA graad in vyf jaar ingeprop. Ek vermoed ek het ADHD, want van konsentrasie verstaan ek nie veel nie. Dis een van die redes waarom ek skryf wat ek in die Bybel lees, want anders glip dit wat ek by my oë ingeneem het, êrens uit en dan kan ek oor ’n paar minute niks meer onthou nie.

Tog is daar dinge wat makliker vasslaan in die grysstof. Of soos die groot mense sê: Daar is verskillende metodes van leer. Een manier wat my baie help, is prentjies. Ek verstaan ’n storie net soveel beter as woorde wat regop langs mekaar deur my oë inkom.

Patti Dobrowolski vertel in ’n TED talk (http://youtu.be/4vl6wCiUZYc) dat sy ’n groot farmaseutiese maatskappy moes gaan help sodat die werknemers die visie van die maatskappy kan verstaan. Minder as 40% van die werknemers het die visie verstaan. Nadat sy haar ding by die maatskappy gedoen het, het die getal na meer as 96% gespring. En wat het sy gedoen? ’n Prentjie van die visie geteken. ’n Eenvoudige prentjie het ’n komplekse stuk intelligensie afgebreek sodat die werknemers dit kon verstaan. Hulle kon die visie nou deel maak van hulleself en op die ou end kon hulle dit deel maak van die manier waarop hulle leef. Die gevolg was sigbaar in die maatskappy se finansiële syfers.

Die spreekwoord sê mos: A picture paints a thousand words.

Sonder dat ons dit besef, is ons besig om elke dag ’n prentjie te skilder. Die manier hoe ek my lewe in die lewe leef, skets ’n prentjie van my. ’n Goeie vriend van my sê dat hy altyd kyk hoe iemand die kelner of kelnerin in ’n restaurant behandel, want dan weet hy presies uit watter stoffasie die persoon gemaak is. ’n Klein prentjie wat die persoon verf terwyl hy seker in minder as ’n minuut met iemand anders kommunikeer, teken ’n prentjie van sy diepste wese, sy diepste binnegoed.

Dit maak my eintlik bang, want sien, ek besef dat ons elke dag ’n klomp prentjies teken. Ons teken prentjies en dikwels is dit in geen onduidelike taal nie, veral wanneer ons haastig is en in die verkeer vassit en iemand druk voor ons in … en dan besef ek my houding of gedrag wys eintlik na dit wat in my binneste aangaan. Ek sit vir ’n oomblik stil om te besef wat ek hier gesê het.

Met elke persoon wat ek kommunikeer (en dit is nie noodwendig altyd verbaal nie), teken ek ’n prentjie. Ek wonder: As ek saans in die bed lê en terugdink aan al die prentjies wat ek deur die dag geskilder het, hoe sal dit lyk?

En so skilder ons prentjies vir ons kinders. Hulle sien die prentjie wat ons skilder as ons met ons eggenoot praat. Hulle sien die prentjie wat ons skilder as ons met geld en somme werk. Hulle sien die prentjie hoe ons oor en met ander praat. Hulle sien die prentjie wat ons oor God skilder.

Dit is die prentjies wat ons vir ons kinders skilder wat dit moontlik maak om hulle op te voed. Die prentjie wat ons skilder, terwyl ons soms te haastig deur die lewe ploeg, vorm die backdrop van ons opvoeding van ons kinders.

4Vir die pa’s (en ma’s) wil ek dit sê: moenie julle kinders so behandel dat hulle nie meer na julle wil luister en rebels raak nie. Maak hulle liewer groot soos die Here van julle verwag. Leer hulle wat om te doen en help hulle op die regte pad, al moet julle soms streng optree.

Terwyl ek elke dag prentjies in die lewe skilder, kry ek dit reg dat my kinders na my luister, of nie? Raak hulle rebels as gevolg van my prentjies, of nie? Maak ek hulle deur middel van my voorbeeld groot soos wat God van my verwag, of nie? Leer my prentjies hulle om op die regte pad te loop, of nie?

Not easy!

Om oor na te dink

Hoe lyk jou prentjies?

Wil ander dieselfde prentjies skilder?

Is daar dalk ’n paar veranderings wat jy moet maak?

Gebed

Vader, U gee my elke dag die kans om prentjies te teken wat die binnekant van my hart aan ander wys. Ek wil ook graag aan my kinders ’n prentjie wys wat hulle met vrymoedigheid kan navolg. Help my om te doen wat U van my verwag. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek