God se Woord in vandag se woorde

Om reg te lewe


Ek lees nie baie boeke nie. As ek die dag wel lees, is ek nie ’n goeie leser nie. Ek dink ek is te nuuskierig en kan nie wag vir die einde nie. Ek lees so vinnig as moontlik. Die meeste van die kere net die eerste en laaste sin van ’n paragraaf.

Die Woord van God kan ’n mens nie so lees nie. Dit is darem net te dinamies. In een vers, in een sin word so baie gesê. Dit is waarom ek gewoonlik net een vers per dag lees.

Neem nou vers 17 as ’n voorbeeld: Aangesien julle Hom as Vader aanroep wat oor elke mens onpartydig volgens sy dade oordeel, lewe dan in eerbied vir Hom gedurende die tyd van julle vreemdelingskap in die wêreld.

Hier word gesê dat God ons Vader is. Hoe baie kan ons nie sê van hierdie beeld nie? ’n Vader wat omgee en só lief is dat Hy bereid is om Sy eie Seun te stuur om vir ’n hoop sondige mense aan ’n kruis te sterf, sodat hulle nie self hoef te sterf vir hul verkeerde dade nie.

Tog vertel dit ons ook van ’n Vader wat nie Sy oë gaan wegdraai vir die verkeerde dade van Sy kinders nie. ’n Beeld wat ons self nie altyd wil raaksien nie. Ja, God kyk na ons verkeerde dade. God kyk na ons goeie dade. God kyk na ons manier van lewe op aarde en ja, ons sal ook daarvoor moet gaan pa staan.

Die vers vertel ons ook ’n bietjie van onsself. Wat onderskei ons van mense wat nie in God glo nie? Ons praat met God. Ons staan in ’n verhouding met God waar ons graag Sy leiding wil hê. Ons wil graag hê Hy moet hoor wat op ons hart is en natuurlik wil Hy hê ons moet ook hoor wat op Sy hart is.

Wanneer ek dit hoor, wonder ek of ek genoeg tyd maak om met God te praat. Roep ek Hom genoeg aan? Wel, as ek dit nie doen nie, gaan ek uitmis en verkeerde besluite maak wat my duur te staan kan kom.

Dan hoor ek ook dat ek ’n vreemdeling hier op aarde is, maar is dit so? Leef ek dalk só lekker hier in die wêreld dat ek nie eintlik uitsien na Jesus se terugkeer na die wêreld nie?

Dalk moet ek eers ’n bietjie op ’n klip gaan sit en seker maak oor hierdie ene.

Laastens is hier ook ’n opdrag: Ons moet God met eerbied behandel. Ons moet só leef dat die wêreld kan sien ons aanbid ’n lewendige God en dat ons met alles in ons aan Hom eerbied betoon.

Sjoe, wat ’n wonderlike vers! Ek sê dit vir myself in gewone taal: Ek moenie vir God vir ’n pop vat nie. Hy is immers die Skepper. Hy is Almagtig en ja, ek sal ook eendag soos al die ander voor Hom moet verskyn om te please and explain.

Ek moet sorg dat ek gereeld by Hom uitkom sodat ek volgens Sy wil kan leef. Ek moet deur my manier van doen Sy Naam eer, sodat Hy tevrede sal wees met wat Hy sien. En ja, ek moenie té styf aan hierdie aarde en sy dinge vasklou nie, want die aarde is maar net ’n tentwoning.

Teks
1 Petrus 1:17-21

Om oor na te dink
Waar moet jy anders lewe?
Wat vertel jou lewe van die eerbied wat jy vir God het?
Waar is jy té vas aan die wêreld?

Gebed
Vader, daar is geen ander soos U nie. Ek eer U as my Vader en ek wil graag soos Jesus leef. Aan U kom al die eer toe. Help my om te lewe volgens U wil en help my asseblief om nie té vas te wees aan die wêreld nie. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek