Om tweede in die verhoudingsry te staan
Paulus gee vir die mense van Efesiërs baie goeie raad. Hy het eers die verkeerde paaie wat die ouens so gereeld vat uitgewys en aangespreek. Nou rig hy sy visier op die huwelik. Die belangrikste hoeksteen van die gemeenskap. Een wat nou hier in ons tyd so baie punch vat. Paulus weet hoe belangrik dit vir ’n gesonde gemeenskap is en gee ’n vinnige en beknopte huweliksverrykingskursus – ’n paar goeie voorstelle vir die wat in ’n verhouding staan.
Ons moet weet dat elke verhouding een of ander tyd ’n grondpad slaan en dan is dit nie lekker nie. Daar kom ’n tyd wat ’n verhouding net werk is. Daar kom ’n tyd wat dit nie lekker is nie en ons wens dat die verhouding nooit begin het nie. Dit is doodnormaal. Almal staan een of ander tyd by ’n doodloopstraat en dink die einde is nou in sig. Maar bly hoop, want daar is hoop. Soms moet ons net ’n paar klein veranderings maak met groot resultate wat anderkant die bult lê en wag.
Ons elkeen het al een of ander tyd drooggemaak. Soms maak ons verkeerde keuses in die huwelik en die resultaat is dikwels donderweer en blits. Die meeste skermutselings kon vermy gewees het as ons eerder aan die ander een bo onsself dink. In die huwelik kom die meeste gevegte weens die eie ek wat opstaan. Daarom die voorstel: 21Omdat julle soveel respek vir Christus het, moet die een nie dink hy is beter of belangriker as die ander nie. Elkeen moet bereid wees om dáár te wees vir die ander een.
In die huwelik, eintlik in alle verhoudings, moet die behoeftes van die ander persoon eerste op die tafel geplaas word. Vra met ’n opregte hart wat in die ander persoon se lewe aangaan. Vra waar daar ’n gemis is. Vra wat jy kan doen om die lewe beter te maak en doen dit dan. Jy sal verbaas wees watter gevolge dit kan hê.
My vrou deel ’n tyd terug met my ’n stukkie seer wat sy moes hanteer. En sommerso deur ons gewone geselsery, luister ek met deernis na haar en praat haar moed in. Na ’n paar dae kom sy na my toe en sê hoe baie dit vir haar beteken dat ek die las saam met haar dra. Ek was nogal verbaas, want ek het nie besef dat my krom en skewe woorde haar help dra het nie.
Ons moet rustiger begin word en mekaar in ag neem. Hoor net die goeie raad van Tina:
Ek en my wederhelf sal die 6de Desember 39 jaar getroud wees. Hoe ouer jy word, hoe mooier word die liefde. ’n Mens moet van die begin af werk maak daarvan dat jy getroud is en beide mense se gevoelens moet in ag geneem word. Elke dag moet jy hanteer asof jy pasgetroud is. Ons sit nog elke dag aan die etenstafel en so gesels ons oor die dag se dinge wat plaasgevind het en ook wat nog beplan word vir die dag van môre of selfs die week wat kom. ’n Mens se lewe is niks sonder die liefde nie.
Eenvoudige raad, maar dit kan ’n wêreld se verskil in jou verhoudings maak. Probeer dit. Doen en sê alles met die ander een se behoeftes eerste in gedagte. Kyk of dit ’n verskil maak. Ek vermoed êrens sal ’n blom oopgaan.
Om oor na te dink
Hoe gaan dit met jou verhoudings?
Hoeveel energie kom van jou kant?
Plaas jy die ander een soms eerste?
Gebed
Vader, dankie dat U vir ons maats en vriende gegee het. Dankie dat U ’n plekkie vir elkeen gegee het. Help ons om meer op ander te fokus as op onsself. Help my om die minste te wees, al verdien die ander een dit soveel minder. Amen