Omvou in arms van liefde
Dit is vroegmôre. Ons lê nog in die bed. Dis Maandagoggend en ons wonder wat die week vir ons elkeen inhou. Ek weet die vorige week was vir my vrou swaar. Sy het soveel hooi op haar vurk. Sy moet soveel mense ondersteun. Sy moet soveel doen. Sy moet baie van haarself gee.
Hier in die vroegmôre het sy een versoek: “Hou my asseblief vas. Hou my net styf vas.”
Ons mans verstaan nie altyd lekker die rol wat ons vir ons vrouens moet speel nie. Ons is soms baie pragmaties. Ons wil raad gee. Ons wil voorstelle maak om dit makliker, beter en gouer te doen. Ons wil die antwoorde gee. Dalk is dit die regte antwoorde, voorstelle en raad, maar nie nou die oplossing nie.
Eintlik wil hulle net vasgehou word.
God is goed hierin. Uit die diepste van Sy wese wil Hy ons net vashou en omring met Sy liefde. Hy wil ons kalm maak in die storm. Hy wil die standvastige fondasie wees waaraan ons kan vasanker. Hier binne Sy arms en teen Sy bors is daar rus en liefde.
16Ons hoef dus nie bang te wees of te wonder of ons na God toe mag gaan nie. Ons kan maar gaan, want God sal baie goed wees vir ons. Wanneer ons dit nodig het, sal God vir ons meer gee as wat ons verdien en ons met sy liefde omvou.
Kry jy swaar? Sit jy met ’n hoop vrae? Loop die antwoorde ’n draai om jou? Maak niks nou sin nie? Wonder jy of jy môre weer jou oë hier op aarde gaan oopmaak? Is jy bekommerd oor jou kinders? Wonder jy oor die land? Het jou oplossings opgeraak?
Dis dalk nou ’n goeie tyd om na God te gaan. Hy staan soos die verlore seun se pa oop arms, uitgestrek na jou. Hy wag vir jou om jou net vas te druk en te omvou met liefde. En waar liefde is, is daar nie verwyte nie. Daar is nie voorwaardes nie. Hy wil nie eers vir jou raad gee of voorstelle doen om dit makliker, beter en gouer te doen nie. Nog minder sit Hy oorgehaal met ’n antwoord.
Hy staan net daar met Sy arms oop om jou met liefde te omvou.
Soms moet ’n mens net daar by God gaan rus. In stilte by Hom wag. Oop soos ’n waenhuisdeur om Sy liefde te ontvang. Want Sy liefde is genoeg om ons op die pad voor ons te dra.
Wat is jou uitdaging vandag? Moet daar êrens ’n naald in jou gedruk word? Moet jy êrens geld in die hande kry? Moet daar ’n bak wysheid verby jou kom? Dalk moet jy eers net gaan stil raak by God en net in Sy arms gaan rus.
Hier sal Hy jou omvou met liefde …
En sal jy ontvang wat jy nodig het en nog meer …
Teks
Hebreërs 4:12-16
Om oor na te dink
Waar lê jou swaar?
Waar lê jou hulp?
Vou God Sy arms om jou?
Gebed
Vader, ek is in ’n doodloopstraat. Ek weet regtig nie verder nie. Die antwoorde is min en die wat ek het, werk nie. Ek is moeg. Ek kom sit nou net by U. Vou U liefdes-arms om my. In Jesus se Naam, amen.