God se Woord in vandag se woorde

Ons engele


’n Vriendin vertel:

Daar is mos altoos iets waarvoor ’n ma vir haar kinders bid. Met my en Lollapot is dit ook nie anders nie. Baie keer laat weet ek via WhatsApp dat ek vir die Here gevra het om haar te omring met ’n hele swerm engele.

Vrydagoggend, sommer nog vroeg, kry ons ’n oproep van haar af om te sê dat sy in ’n motorongeluk was. So onthou ek dit:

Op pad werk toe ry ’n voertuig reg voor haar in. Lollapot tref hom met een massiewe slag.

Sy kan omtrent nie haar bene beweeg nie en in haar voorkop is daar ’n geweldige pyn. Uit die hoek van haar regteroog gewaar sy die einste wit motor stadig vorentoe beweeg en sowaar as vet, daar ry hy weg.

Om als te kroon, stop ’n minibus-taxi aan haar regterkant en sy skrik weer van vooraf. ’n Oomblik later sien sy drie manne uitklim. Nie wie of wat nie, maar drie verkeerskonstabels in uniform. Is dit moontlik?

Hulle kry haar versigtig uit die motor, hou haar van agter af om die bolyf vas en skuifel-skuifel ’n verkeerd-om dans met haar totdat sy op die sypaadjie kan gaan sit. Haar kop is dronk en ’n naarheid stoot in haar keel op.

Intussen kom daar ook, asof gestuur, ‘n polisievoertuig aan. Cedric, die verkeersman, roep hulle tot halt en beduie na die man wat besig is om weg te ry. Onmiddellik begin blou ligte draai en sirenes loei. Hulle is warm op sy spoor. Kort voor lank keer hulle terug met die skuldige.

Kort nadat sy op die sypaadjie gaan sit het, klop iemand op haar skouer. Twee jong manne wil graag hulle foonnommers vir haar gee, want sien, hulle is ooggetuies wat nie sal huiwer om te getuig nie.

Daarna kondig Cedric aan dat hy ’n ambulans gebel het om haar hospitaal toe te neem.

So neem hulle haar nie net hospitaal toe nie, maar Cedric vryf ook haar rug, terwyl die naarheid haar wil-wil oorweldig. Hy hou haar hand vas toe sy soos ’n kleuter huil terwyl ’n verpleegster sukkel om ’n aar te kry. Die kind het ’n oordrewe fobie vir naalde!

Terwyl sy in ’n kamer lê en wag vir die medikasie om in te skop, kom ’n skoonmaker by name ‘Antie Lucie’ in en verneem of daar dalk iets is wat sy vir die geskokte, betraande mens kan doen. Sy kan toe darem in die handsak krap vir haar selfoon. Verder beloof sy om naby te bly, net ingeval. Bid jou aan. Dis nie haar werk nie, maar sy is bereid.

By ons aankoms die middag, terwyl ek haar help om pyn-plakkers op haar bol-geswolle nek en skouerspiere te plak, vertel sy my die hele storie. In dankbaarheid loop daar trane oor my wange. Voor ek verder gaan, vat ek eers haar hand en bid: ‘Here dankie! Dankie, vir ’n swerm engele om my kind vanoggend!’

Cedric, Antie Lucie, polisiemanne en ooggetuies, almal God se engele op hulle pos. Hulle was vol van God. 12… We’re being shown … how to take on a God-filled, God-honoring life. (The Message)

Ons moet ook engele wees. Vandag, orals, aanmekaar.

Teks
Tit 2:11-14

Om oor na te dink
Sien jy jouself as ’n engel?
Besef jy dat God jou wil gebruik?
Waar?

Gebed
Heilige Gees, help my om altyd te luister en te kyk waar U my in ander mense se lewe wil gebruik. Wys my asseblief waar ek vandag vir iemand ‘n klip uit die pad kan rol. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek