Ons grafskrif
Helene skryf:
Hier kom elke week ’n paar boemelaars vir koffie en broodjies. Vandag het ek net geweet dat ek vir hulle die gedeelte moet fotostateer oor hoe om jou lewe vir die Here te gee. Ek het toe Decefix voor- en agterop geplak en dit vir hulle gegee. Nou vertrou ek die Heilige Gees verder.
Ek wonder wat sal eendag op haar grafskrif staan? Iets soos: Haar hart was so groot vir ander in nood.
Jossy skryf:
Ek loop verlede week in Spar om ’n paar goedjies vir die huis te koop. Toe ek so loop sien ek ‘n ouerige man in die gange loop met sy mandjie. Hy swaai dit heen en weer …
Dadelik sê iets vir my, gee vir hom ‘n geldjie.
Ek haal ‘n honderd rand uit my beursie en gee dit vir hom.
Sy woorde was: “Dankie ek het maar net bietjie rond geloop in Spar.”
Ek glo hy kon toe net ’n paar goedjies in daai leë mandjie sit. Die trane het van my wang af geloop toe ek by die huis kom.
Ek wonder wat sal eendag op haar grafskrif staan? Iets soos: Sy was altyd getrou aan God se roepstem.
Ek wonder wat gaan my mense eendag op my grafskrif sit?
My pa het een passie gehad en dit was om Jesus se verlossende boodskap aan een en almal in die wêreld uit te dra. Orals waar hy kom, kon hy homself nie keer nie en het die Evangelie uit sy mond geloop. Sy grafskrif is eenvoudig, maar so waar: Bedienaar van die Woord.
Wonder jy ook soms wat eendag op jou grafskrif gaan staan? Dit is mos eintlik so ’n opsomming van jou lewe in een sinnetjie. Die kern van jou lewe, of soos hulle vandag sê, die why van jou lewe.
Paulus gee Filemon se grafskrif vir hom, nog voor hy in die graf lê: 5Almal praat van jou onverskrokke geloof in die Here Jesus en van jou liefde vir Hom en vir ander gelowiges. Of soos dit op ’n graf sal lyk: Hy het onverskrokke geloof in die Here Jesus gehad en was baie lief vir Jesus en ander gelowiges.
Filemon se geloof was onwankelbaar. Niks kon hom afstoot van sy geloof nie, al het dit soms erg woes gegaan. Hy is oorrompel deur Jesus se liefde. Daarom kon hy nie anders as om sy liefdeskoppie te laat oorloop na die mense om hom nie.
Dit het hom gedryf. Elke liewe dingetjie wat hy gedoen het, het getuig van geloof in sy Skepper en het uitgevloei van die een daad na die ander van liefde. Aldus sy vroeër grafskrif.
Dit is merkwaardig!
Ek wonder nog steeds wat die mense eendag op my graf gaan skryf. En jy?
Teks
Filemon 1:4-7
Om oor na te dink
Wat gaan eendag op jou grafskrif staan?
Is jy tevrede daarmee?
Wat moet jy anders of meer doen, dink jy?
Gebed
Vader, ek besef dat ek soms te besig is, soms te lui en soms eenvoudig net steeks om my roeping uit te leef. Ek wil doen wat U wil hê ek moet doen. Regtig! Help my tog om so te lewe soos U wil. In Jesus se Naam, amen.