Ons is adelik
18Ek sal vir julle ’n Vader wees. Julle sal my seuns en dogters wees,” sê die Here.
Wat ’n wonderlike voorreg is dit nie om kinders van God genoem te word nie? Die almagtige God het Homself as Vader aan ons beskikbaar gestel. Hy nooi ons in sy paleis in. Ja, die deure van die hemelse paleis staan oop en ons gewone mense kan sommer instap en net daar prinse en prinsesse word. Ja, die hemelse Koning kondig Homself as ons Vader aan.
En wat doen’n vader? Albert Barnes sê in sy Bybel kommentaar ’n vader is ’n beskermer, berader en iemand wat voor stap. Hy onderrig, voorsien en gee leiding wanneer sy kinders radeloos is. Geen verhouding is meer intiem as dit nie. Daarom sê God dat Hy vir sy kinders, dis nou ons, ’n beskermer, berader, leier en vriend sal wees. God die Vader sal in alles wat sy kinders nodig het, voorsien. Barnes se reaksie hierop:
No higher honor can be conferred on mortals than to be adopted into the family of God, and to be permitted to call the Most High our Father. No rank is so elevated as that of being the sons and the daughters of the Lord Almighty. Yet this is the common appellation by which God addresses his people; and the most humble in rank, the most poor and ignorant of his friends on earth, the most despised among people, may reflect that they are the children of the ever-living God, and have the Maker of the heavens and the earth as their Father and their eternal Friend. How poor are all the honors of the world compared with this!
Ek begeer geen ander titel meer as die titel: Kind van God nie. Dit is die mees belangrikste titel wat die mens ooit kan kry. Wat ’n voorreg om die Skepper van hemel en aarde pappa te kan noem?
Dan skuif die spotlight na ons wat die kinders van God is. Die vraag is of ons soos kinders van God optree? As mense na ons lewens kyk, sal hulle vir God wat ons Vader is, die een wat ons lei en vertel hoe ons in moeilike tye moet optree, raaksien wanneer die paw-paw die fan strike? As ek daar by my pelle om die vuur staan of saam met my vriendinne ’n lady’s night het, sal die mense my opvoeding en integriteit wat van ’n hemelse pa kom, raaksien en ervaar?
Ek kry vir prins Harry en William en Kate jammer, want alles wat hulle doen word op film of foto vasgelê. Daar word van hulle verwag om as prinse en prinsesse op ’n sekere manier te leef. Hulle is mos adel en nie deel van die gewone plebs nie. Maar as een van hulle dalk net een aand te laat uit ’n klub kom of net te lank met ’n meisie op die strand gesels, dan lê dit die media vol. Eintlik verwag mense van hulle om 24/7 die rol van adellikes te speel.
Ons moet besef dat ons elkeen wat in God glo, ook adellikes is. Ons is die prinse en prinsesse van die Koning van die heelal. Ons gedrag moet dit ook reflekteer. Wanneer mense na ons kyk en sien hoe ons leef, moet ons adellikheid sigbaar word. Mense moet kan sien dat ons Vader die koning is en dat ons sy kinders is.
Dit is ’n groot voorreg om ’n kind van God genoem te word. Daarmee saam kom daar wonderlike voordele. Mag ons dit besef en mag ons so deur die lewe stap dat ander nie net ons adellikheid sal raaksien nie, maar ook ervaar dat ons ’n verskil in die wêreld maak.
Om oor na te dink
Glo jy dat jy ’n adellike is?
Leef jy soos ’n adellike?
Ervaar ander jou adellikheid deur die manier waarop jy optree?
Gebed
Almagtige Koning, dankie dat U ons Vader is. Dankie dat U ons adellikes, prinse en prinsesse gemaak het. Dankie vir die beskerming en leiding en al die ander voordele wat ons as kinders van U ontvang. Help ons om al die voordele nie vir onsself te hou nie, maar dat ons dit sal deel met die mense om ons. Amen