Ons lig in die duister
Ek wonder hoe sou dit gewees het om te kon leef voor Christus op die aarde was? Daar was toe nog nie ’n standhoudende manier om gered te word nie. Of eerder, Jesus was nog nie op die aarde om vir ons wat in Hom glo, die hekke van die hemel oop te stoot nie.
Die gewone mense was afhanklik van die priesters en profete om hulle op die pad te hou. Dit was veral die profete wat die spreekbuis was, wat die skakel was tussen God en die mense.
Watter ongelooflike verantwoordelikheid het die manne en vroue nie gehad nie? Hulle het heel waarskynlik ook na ’n meer standhoudende oplossing gesoek. ’n Oplossing wat die mens vir altyd uit die hand van die bose kon red.
10Die boodskappers van God, die profete, het lank gelede al gesê dat God vir julle wonderlik goed gaan wees, selfs al verdien julle dit nie. Hulle het baie moeite gedoen om te probeer uitvind wat God presies in gedagte gehad het toe Hy gesê het dat Hy mense gaan red. Hulle wou agterkom wanneer en hoe alles sou gebeur.
Hoe wonderlik moes dit nie vir elkeen van hulle gewees het toe hulle opdaag by die boodskap dat daar wel ’n reddingsplan op die tafel is nie? Toe dit aan hulle geopenbaar is, kon hulle nie stilbly nie.
Weet jy dat daar meer as 350 profesieë oor Jesus in die Ou Testament is? Die eerste een oor Jesus se maagdelike geboorte word reeds in Genesis 3 uitbasuin. Reeds toe al het die profete geweet hier kom iets groot.
Van die begin af was God se reddingsplan op die tafel en die profete het dit hulle taak gemaak om uit te vind hoe die plan presies gaan lyk. Dit was hierdie plan wat die volk van God baie keer deur die swaar tye gesleep het.
Hoe dankbaar kan ons nie wees dat ons lewe nadat die reddingsplan ’n realiteit geword het nie? Ons hoef nie meer te wonder wanneer dit gaan gebeur nie. Ons hoef nie meer onseker te wees hoe die plan gaan lewe kry nie.
Jesus het na die aarde gekom om te kom sterf vir die mens se sondes. Hy het vir alles met Sy lewe betaal. Ons hoef nie ’n stukkie by te dra nie. Die verlossingsplan was volkome en alle skuld is betaal. Vir die wat hulle sondes bely het en Jesus as hulle Verlosser aangeneem het, staan die deur van die hemel oop.
Hoe wonderlik is dit nie? Hier sit ons met die verlossingsplan van God wat ’n werklikheid geword het. Dit is ’n gebeurtenis wat in die verlede wel gebeur het en ons hoef nie meer soos die priesters en profete van ouds in die donker rond te ploeter nie. Ons hoef nie meer ’n hoop energie te gebruik om te wonder hoe en waar dit gaan gebeur nie.
Ons besef nie aldag hoe bevoorreg ons is om in die na-Jesus-se-koms, ná die verlossingsplan van God in werking gestel is en ten volle geïmplementeer is, te leef nie. Dit is so duidelik soos daglig vir ons.
Wanneer ons dit besef, moet ons ook, soos die profete van ouds, toe hulle die nuus uiteindelik ontdek het, vir die wêreld hierdie wonderlike nuus gaan vertel. Ons moet hierdie blye boodskap gaan uitdra, sodat die ander wat nog in die donker rondploeter, ook na die Lig sal beweeg.
Teks
1 Petrus 1:6-9
Om oor na te dink
Wat beteken God se verlossingsplan vir jou?
Wat doen jy daarmee?
Met wie kan jy hierdie plan deel?
Gebed
Vader, baie dankie vir U verlossingsplan! Dankie dat ek deel kan hê daarin! Help my asseblief om dit vir ander te vertel, sodat hulle ook uit die donker na U lig kan beweeg. Amen.