Ons manier van doen
Hier is die tweede deel van Tert se storie. Herman met die pen in die hand:
Die boemelaar het in die vorige stuk vertel hoe iemand vir hom gebid het en hy van drank genees is.
“Nou hoe op die aarde kom jy toe by my uit?,” wil Tert van die ou weet. “Nee, jy sien, ek het toe maar so ‘n paar los joppetjies gedoen. Hier gras gesny en daar ‘n kar gewas vir ‘n paar Rand.
Toe koop ek ‘n koerant en iewers in ‘n asblik het ek ‘n ou Gateway van 2011 gekry. Ek wou kyk of ek iewers ‘n job kon kry. In die koerant sien ek toe hierdie advertensie,” en hy wys vir Tert ‘n flentertjie papier. Dit was ‘n advertensie van ‘n plek wat sjokolade en vormpies verkoop en dan kan ‘n mens jou eie sjokolade maak en verkoop en so ‘n inkomste verdien.
“Ek het die advertensietjie uitgeskeur en gebêre. Toe blaai ek die Gateway deur en kom op jou Kersfeesstorie af. En ek vra vir ‘n paar mense of hulle jou ken. Weet jy hoeveel mense in Harties ken jou? Een man het vir my jou nommer gegee.”
“Nou hoekom ek?” vra Tert. “Nee, jy sien, in daardie storie lees ek toe van hoe jy wonder oor Kersfees en van straatkinders en ouens soos ek. En ek dog toe dalk kan jy my help.”
“Nou hoe gaan ek jou kan help?”
“Al wat ek vra, is ‘n plekkie om te bly en waarvandaan ek kan werk. En ‘n paar Rand om van die vormpies en sjokolade te kan koop, sodat ek ‘n begin kan maak. Ek sal jou alles terugbetaal.”
“Wat weet jy van bouwerk af?”
“Toe ek in Eersterus gebly het, was ek ‘n bricklayer. Maar dis agt jaar terug. My hande is nie meer gewoond aan stene nie. Maar ek weet nog van.”
“Goed,” sê Tert, “kom saam. Ek dink die sjokolade-ding kan werk, maar jy sal beter verdien by my. Ek soek juis iemand wat kan toesig hou by een van die sites.”
“En toe, tjom?” vra Herman toe Tert stilbly.
“Dis nou twee jaar vandat my paadjie met daardie man gekruis het,” sê Tert. “Twee ongelooflike jare. Hy bly steeds in die woonstelletjie agter in my erf, en dinge lyk goed.
En soms, wanneer ek by die ou met die stompie been daar by die robot, of by die ou tannie daar by Crossroads verbyry, wonder ek of daar nie dalk ook ‘n vreemdeling by hulle gaan stilhou en bid nie.”
3… Net so moet julle meegevoel hê met die mense wat sleg behandel word en swaarkry, asof dit julle self is met wie dit gebeur.
Mag ons ook so maak. Mag daar nog baie van die stories geskryf word oor ons manier van doen …
Teks
Hebreërs 13:1-8
Om oor na te dink
Hoe lyk jou meegevoel vir mense wat swaarkry?
Doen jy iets daaraan?
Maak jy werklik ’n verskil in ander mense se lewens?
Gebed
Here, ek bid weer, mag ek nooit daar wees waar mense sê U nie is nie. Mag ek U orals saamneem en U hande en voete wees vir mense wat sleg behandel word en swaar sleep. Amen.