God se Woord in vandag se woorde

Oor Rina se kwaadword-briefie


Ek dink dit sal onregverdig wees om nie ook Rina se briefie aan haar pa hier weer te gee nie.

Liewe Pappa, Pappie, Pa … 31 jaar is lank … ek kan glad nie onthou hoe ek Pa aangespreek het nie …

Vandag is ek lus om met Pa te praat, sommer net oor alles wat ons nooit kans gehad het om oor te praat nie. Nie omdat ons nie wou praat nie, maar omdat die lewe ons ‘n wrede streep getrek het, voor ons al daardie praat en al die ander dinge wat ‘n pa en dogter saam moet doen, gedoen kon kry.

Ek dink nie ‘n mens kan alles in die Hemel sien wat hier op aarde gebeur nie en briewe sal Pa ook nie kan ontvang of lees nie, maar ek wil nogtans graag vir Pa vertel wat in my hart en lewe aangaan. Pa sou verstaan.

Ek kyk na foto’s van myself en al spot ek soms en sê ek is aangeneem of omgeruil in die hospitaal, sien ek myself in Pa. Ons kyk is die eerste wat my opval, ‘n kyk wat sê ons sal dit maak, ons sal ons nie laat onderkry nie, maar tog ‘n kyk wat met deernis kyk en sê dat ons ons naaste liefhet en omgee en verstaan. So, ja, ek is beslis Pa se kind.

Pa, ek het ‘n pragtige, lang, skraal, blondekopseun. Pa sou so trots gewees het op hom, want hy het Pa se mooi sangstem vir hom gevat en sy eie gemaak. Ek wens Pa kon my help om hom groot te maak …

Jammer dat ek nie altyd ‘n modeldogter was nie. Jammer dat ek so lelik en ongehoorsaam was die laaste aand van Pa se lewe hier saam met ons. Jammer vir so baie wat ek verkeerd gedoen het.

Dankie dat Pa my vergewe het. Dankie dat Pa my met Pa se hele hart liefgehad het. Dankie dat Pa my net die beste gegee het en dankie vir die beste huis en opvoeding denkbaar. Ek is lief vir Pa.

Môre is Pa se verjaardag en ek wonder of die engele vandag nog betyds 86 kersies bymekaar sal kan maak. Ek sal gaan kyk as die maan en die sterre gesig begin wys of daar dalk ‘n ekstra vlammetjie iewers in die hemelruim sy opwagting maak.

Nou ja, my liefste Pappa, Pappie, Pa … ek groet vir eers, maar sal altyd met ‘n hart vol liefde na Pa verlang.

Terwyl ek die traan wat so lastig hier uit die hoek van my oog uit lek, afvee, ervaar ek die pyn, maar ook die vreugde. Ons wat droogmaak en kwaad word, maar ook dan vergifnis ontvang.

Dis presies wat Jesus vir ons kom regkry het, sodat ons nie hoef swaar te sleep aan dit wat ons aangevang het nie. Mag ons uit dankbaarheid dan juis anders leef en weer probeer en kwaadword vir eers uit ons lewe wurg.

Teks
Jakobus 1:19-27

Om oor na te dink
Wat maak jou kwaad?
Hoe kan jy die kwaad se energie anders kanaliseer?
Moet God jou help?

Gebed
Hemelse Vader, ek kry skaam as ek dink wat ek al in my woede aangevang het. Dankie dat U die volle prys daarvoor betaal het! Maak asseblief die seer in my en die wie ek benadeel het se harte gesond en help my om dit nie weer te doen nie. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek