Oorloop emmers van dankbaarheid
Die statistieke wys dat besighede wat van die een geslag na ’n volgende geslag oorgedra word, baie keer in die derde geslag vou. Gewoonlik het die pa met niks begin nie, maar met harde werk ’n groot besigheid staangemaak. Die seun het by sy pa geleer en weet waar dinge vandaan kom. Die kleinseun het ongelukkig nie meer die prentjie nie en dink dat alles hom toekom. Dit is dan net hier waar hy in die hek duik en gewoonlik die besigheid saam met hom.
Ek leer my kinders mooi dat dit ’n voorreg is om te erf en nie ’n reg nie. Wanneer ’n mens dit besef, kom ’n mens se gedrag in lyn en word ’n mens oorval met vreugde as jy die dag dan wel ietsie erf.
Ons is almal erfgename van Jesus. Hierdie erfporsie het ons ontvang die dag toe Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het. Ons hoef nie hiervoor te werk nie. Nooit nie! Jesus het met Sy bloed reeds daarvoor betaal. Daarom, wanneer God na ons kyk, kyk Hy deur Jesus na ons en kom ons sondes nie in die prentjie nie.
Hoe wonderlik is die erfporsie wat ons ontvang het nie!
Tog hou die porsie nie daar op nie. Deel van die porsie is dat ons ook die ewige lewe ontvang. Ons hoef nie meer eendag te gaan please and explain hoekom ons werke hier op aarde betaal het vir ons toegangskaartjie tot die hemel nie. Daar gaan nie meer geweeg en gelig gevind word nie.
Die somme is reeds gedoen en alles klop, omdat Jesus reeds die rekening namens ons betaal het. Die 1983-vertaling praat van ’n onwankelbare koninkryk wat ons ontvang. Dit kan nie vou nie. Niemand kan ’n verkeerde besluit neem wat die besigheid kan laat vou nie. Dis vaster as gegiet in yster.
Die vraag is wat maak dit aan jou? Jy erf so baie. Jy erf ’n lewe wat nooit gaan ophou nie. Gaan jy soos die tweede geslag wees wat regtig besef waaroor dit gaan en jou bes doen om jou lewe so te rig dat dit inpas by jou erfporsie of gaan jy soos die volgende geslag optree en dink dis jou reg?
Wel, hier is ’n opdrag vir ons almal: 28God maak ons nou deel van sy koninkryk wat vir altyd daar sal wees. Daaroor moet ons oorloop van dankbaarheid. Laat ons Hom dien met eerbied en al die respek wat Hy verdien en laat ons besef hoe klein ons regtig in vergelyking met Hom is.
Ons moet oorloop soos ’n emmer onder ’n lekkende kraan. Ons moet so gevul wees met dankbaarheid, dat ons dankbaarheid oorloop na die mense wat hier langs ons emmer staan. Die mense in ons gesinne, die werksmense, ons vriende. Almal moet gediens word deur die dankbaarheid wat uit ons loop.
Ek vermoed dis nie die eerste keer dat jy hierdie boodskap hoor nie. Dalk is dit nou die tyd om regtig te dink oor jou manier van deur die lewe loop. Dalk moet die wortel wat jy voor jou hou, nie die huis of die kar of mensgemaakte drome wees nie. Dalk moet dit dan juis die ewige lewe wees. Dan behoort jou dade dankbaarheid te weerspieël en mag ander se emmers ook vol kom om vir ander tot seën te wees.
Teks
Hebreërs 12:25-29
Om oor na te dink
Sien ander die ewige lewe deur jou?
Hoe kan ander dit sien?
Hoe moet jy anders lewe?
Gebed
Ons Vader wat in die hemel is, dankie dat my plekkie reeds voorberei is. Dankie, dat ek nie hoef te werk vir my erfporsie nie. Help my dan juis om dit uit te leef en ander ook lus te maak daarvoor. In Jesus se Naam, amen.