Op die regte paaie
Ek sit in die stoomkamer, besig om myself leeg te tap. Iemand het êrens gesê dat al die gifstowwe so uit jou liggaam uit kom. Ek sien egter in my geestesoog hoe die vet stukkie vir stukkie uitdrup.
My vriend vra my nou die dag of ek weet waar vet heen gaan. Ek wou iets sê van die sweet in die stoomkamer, toe antwoord ek eerder niks. Interessant, sê hy, dat jou liggaam vet omsit in bruikbare energie. Die neweprodukte is water en koolstofdioksied en in die proses word dit warm. Amper soos petrol in ’n kar wat energie gee om die wiele te draai en dan kom daar koolstofdioksied en water by die uitlaatpyp uit.
Ek dink nog steeds dat my antwoord van sweet in die stoomkamer nie te vêr verkeerd sou wees nie, maar dit daar gelaat, want ek is nou heeltemal van my storie af.
In ieder geval. So sit ek en ’n ander ou in stilte. Hy staan op en spring sommer net daar in die swembad. ’n Tannie wat op die rand sit, skel hom toe van ’n kant af uit, omdat hy nie gestort het voor hy die swembad in is nie. Ek skud net my kop oor die manier waarop die vrou met die man praat.
Ja, ’n mens moet eers van die sweet ontslae raak, maar help mense op ’n mooi manier reg. Moenie skiet-skiet die werf inkom nie.
Die man sê niks en sit nog ’n lang ruk saam met my en sweet. Hy staan op, neem die handstort en spuit hom af, maak die deur oop en spring in die swembad.
Die vrou daal op die man af en begin woes met haar mond te mors. Sy’t nie gesien dat hy in die stoomkamer gestort het nie.
Toe ek uitstap, kon ek myself nie keer nie en sê mooi vir die vrou dat die ou wel binne en nie buite, waar hulle kon sien nie, gestort het. Sy het net aanhou mor en soos ek afstap, hoor ek die ander anties aanhou blaf oor die man. Die vrou was op die verkeerde pad.
1Ons moet wat ons gehoor het nie so ligtelik opneem nie. Ons moet ernstig daaroor wees sodat ons nie dalk op die verkeerde pad beland nie.
Ek het skaam gevoel vir die manier waarop die vrouens die man, wat heel waarskynlik ’n besoeker was, met hul monde hanteer het. Ons land het eenheid nodig en met sulke afbrekende kommunikasie maak ons die gaping tussen ons net groter.
Dit is so belangrik dat ons die Woord van God in ons harte dra om ons te help om op die pad te bly. Met elke keuse wat ons moet maak, watter rigting ons gaan inslaan, wat uit ons monde kom, moet ons eers na God se woorde luister.
Ons moet onthou dat ons van nature die verkeerde pad kies. Dit is slegs deur die daaglikse en aanhoudende bestudering van God se waarhede, dat dit deel word van ons wese. Dan kan dit ons help om die regte keuses te maak, om so op die regte paaie van die lewe te bly.
Mag God ons help!
Teks
Hebreërs 2:1-4
Om oor na te dink
Hoe gereeld is jy in God se Woord?
Wie bepaal jou reaksie?
Wat moet jy anders doen?
Gebed
Vader, ek weet ek neem nog te veel van my eie besluite. Daarom dat dit lyk soos dit lyk in my wêreld. Help my om meer gedissiplineerd te wees. Help my om U woorde deel te maak van my lewe, sodat ek meer en meer op die regte paaie kan lewe. In Jesus se Naam, amen.