God se Woord in vandag se woorde

Op die regte pad


1 Korintiërs 15 1-6

Ek is mos nie ’n ou vir oefening nie, want ek sê nog altyd dat ek eerder gebou is vir liefde as vir oefening. Maar aan die begin van die jaar sê ek vir myself: “Self, so kan dit nie aangaan nie.” En ek is nogal vroom en voeg by: “In die Bybel staan dit ook dat jy nie so sleg moet wees nie en jou liggaam moet oppas.” Ek moet hierdie groot lyf op ’n manier aan die oefen kry, maar hoe en met wat? Een ding het ek al gelukkig lankal uitgevind en dit is dat ek nie eintlik ’n langafstand ou is nie. Ek kan myself net nie lank genoeg motiveer om nog ’n tree te draf of nog ’n trap te trap met die fiets nie. Dit voel vir my of ek ure werk, maar nie veel sweet nie en ék meet oefening in liters sweet.

Toe onthou ek van muurbal wat ek op universiteit laas gespeel het en ek en my vrou besluit om die baan te bestorm. En bestorm was dit, want daar was duidelik baie meer van onsself op die baan as 20 jaar terug se universiteitslyfies. In my gedagtes het ek twee klein olifantjies gesien met pienk balletskoene aan wat met arms in die lug in die rondte draai. Dit het wel so geklink soos ek en my vrou op die baan rond gestorm het, in mure vasgehardloop het en ’n paar keer ongrasieus oor die vloer geskuif het. Sop-sopnat het ek en sy na 15 minute van die baan gestrompel, moeg, maar heeltemal tevrede oor die sweet. Opgewonde stap ons na ’n halfuur se rus kar toe met die wete dat ons nou weer die sport herontdek het. Nou sal ons ons lywe weer regkry en ons neem ons voor om drie maal per week te oefen.

Vir drie maande is ons gemotiveerd en ons oefen drie maal per week. Pragtig man! Ons voel goed oor die nuwe lewenstyl van ons.

Maar toe gebeur daar ’n klomp goed en vir 2 weke het ons nie een keer muurbal gespeel nie. My moed sak sommer in my skoene. Nou is ek alweer onfiks en ons moet die styl paadjie weer van vooraf klim. Hoe kan ’n mens toelaat dat ’n streep net so deur 3 maande se geoefenry getrek word?

Om een of ander rede stap ons ander paadjies in plaas daarvan om op pad te wees na die muurbalbaan. Die ergste van alles is dat ons elke ander paadjie wat ons die afgelope 2 weke geloop het, met ’n goeie rede kan staaf.

Net so gaan dit telkemale met ons verhouding met God. Voortdurend is daar stories om te verduidelik hoekom ander paadjies geneem is en hoekom ons nie in stilte by Hom kon uitkom nie. Klink dit vir jou ook bekend?

Vandag is hier so-effe van ’n vuishou vol op die bors en ons word gekonfronteer met die vraag: Op watter pad is jy besig om te loop? En die ergste van alles is dat ek baie verduidelikings het hoekom ek hier is, amper soos die goeie verhale hoekom ek nie die afgelope 2 weke op die baan gekom het nie. Daar is altyd ’n rede! Die waarskuwing is egter duidelik vandag: 2Toe julle hierdie goeie nuus gehoor het, het julle mos Christene geword, natuurlik mits julle nie allerhande afdraaipaadjies vat nie, maar dit glo soos ek dit vir julle vertel het. As julle egter ’n ander pad loop, stap julle weg van God af wat julle red en kan julle net sowel ophou glo, want dit alles sal julle niks help nie.

Hoeveel keer het God nie al vir my, vir ons, geroep om op die regte pad te klim nie en baie maal, soms met erge trane, strompel ons terug na God en sê ons is jammer? Dan rol die beloftes van nooit weer nie, Here. Maar kort voor lank loop ons maar weer rustig op ’n ander paadjie.

Eenvoudige boodskap: Ons moet waak! Ons moet wagstaan en vasstaan! Ons moenie laat slap lê nie! Ons moet die weg van God stap! Dit is al pad wat reg is!

Om oor na te dink

Watter dinge doen jy wat jou van God se pad aftrek?

Wat veroorsaak dat jy te moeg is om ’n uur vroeër op te staan en besig te wees met God se dinge?

Is daar iets wat jy vir God wil sê?

Watter aksieplanne het jy om nie weer van God se paaie weggelok te word nie?

Gebed

Ons Vader, U is die enigste pad. Enige ander pad is net ’n geraas. Ek weet dat die ware vrede en geluk net op U pad te vind is. Wanneer ons binne U wil vir ons lewe bly, sal ons U ontmoet. Tog kies ons so maklik die verkeerde afdraaie. Help my Vader, om aan te hou oefen om op U pad te stap. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek