Op ons tone opsoek na God
’n Vriend van my het baie seergekry. Hy het baie gesukkel in sy huwelik. Hy is so stukkend. Hy skryf:
Dit is nou Sondagaand. Vandag het die bom weer gebars en ek is sak en pak terug woonstel toe. Was in die kerk vanoggend en het great gevoel.
Ek probeer regtig my bes om my beste voet vir haar voor te sit en ry elke dag kinders heen en weer.
Kom nie by my besigheid uit nie. Besigheid is nou finaal besig om met spoed na die afgrond te snel en gaan gouer crash as wat ek gedink het. Rina (naam verander) het my rondom middagete maar net weer emosioneel afgetakel en laat verstaan dat die “huisie-huisie” speel nie vir haar aan is nie en ek moet asb. die huis verlaat of sy klim in haar toestand self in die kar en ry na haar prokureur toe.
Ek het opge-crack en op pad kar toe sommer ’n paar goed begin stukkend gooi. Die kinders was baie ontsteld. Ek het net met klere aan my lyf weggejaag en was nie eers in ’n toestand op by die naaste kafee water te koop om ’n kalmeerpil af te sluk nie.
Later effens gekalmeer en getwyfel tussen kalmeerpil en sommer net wegjaag.
Op die ou end is dit die prentjie van my en my dogter in die kerk vanoggend wat my eerder ’n “Red Bul” laat drink het. Ek is terug huis toe om verskoning te vra vir die kinders.
Daar aangekom was alle deure en hekke gesluit en met verwarde ogies het hulle toegekyk hoe mamma my tasse vir my gepak het. Van my goed was reeds buite gesit …
Wanneer ’n mens in so ’n situasie is, sien jy nie lig nie. Dan is die emosies so op hol dat die neem van jou eie lewe na ’n goeie en vir sommige die enigste uitkomkans blyk te wees.
Blikkies, maar die lewe is deurmekaar en alles wat mooi is, kruip net weg.
Die troue, die liefde, die opgewondenheid oor die pienk voete, die breë bors oor die besigheid, alles is weg. Daar is nie meer ’n rede vir lewe nie. Alles ’n dik streep deur en met ’n groot uitveër uitgevee.
Selfs God is oënskynlik nie op die horison te siene nie. Alleen, met geen hoop, geen idee van verligting van die seer nie. Die mote wat ons met stomp messe uit elkeen se lewe kerf kan seker nie weer gesond gemaak word nie?
Dan raak ’n mens se trooswoorde op.
En so kom ons almal van tyd tot tyd by soortgelyke krisisse te staan.
Tog, wanneer ons stil word, wanneer ons ophou probeer om plastiek pleisters te plak, kom God en sê sy sê: 16Ons gee nooit moed op nie, ook nie wanneer ons rondgestamp en mishandel word nie. Nee, dan byt ons eers vas, want God is die hele tyd by ons. Hy maak ons elke dag van binne af nuut.
As dit nou ek was wat dit gesê het, was dit seker ’n goedkoop stuk genade wat ek probeer verkoop het. Gelukkig kry die woord krag en gesag omdat dit van die Almagtige God self kom. Daar is nie ’n ding soos toeval nie. Alles kom op die regte tyd. Dis nou nie ons tyd nie, maar God se tyd, want Hy kan die groter prentjie raaksien.
Juis nou kom sê God vir jou en vir my dat ons met alle tande moet vasbyt en soos ’n Jack Russel aan ’n stuk hout, nooit moet los nie. God is by jou. Moenie nou moed opgee nie. Glo en weet dat God daar is. Lewe met ’n verwagting dat jy God net om die volgende draai gaan ontmoet, want Hy is in jou. Ja, dit is so!
Om oor na te dink
Ons gee nooit moed op nie, ook nie wanneer ons rondgestamp en mishandel word nie. Nee, dan byt ons eers vas, want God is die hele tyd by ons.
Ons gee nooit moed op nie, ook nie wanneer ons rondgestamp en mishandel word nie. Nee, dan byt ons eers vas, want God is die hele tyd by ons.
Ons gee nooit moed op nie, ook nie wanneer ons rondgestamp en mishandel word nie. Nee, dan byt ons eers vas, want God is die hele tyd by ons.
Gebed
Here, ek het dit nou so nodig gehad. Eintlik weet ek dit, maar as die lewe so druk, vergeet ek dit. Daarom vra ek, Here, maak U self aan my sigbaar. Help my om stil te word en net op U te fokus, sodat ek U hier binne my sal ervaar. Amen