God se Woord in vandag se woorde

Op skool of gegradueerd?


Vandag kom daar ’n paar reguit vrae. Vrae wat ’n mens aan die dink laat sit. Vrae wat vir sommige so bietjie ongemaklik laat voel.

As iemand vandag by jou deur aanklop en jou vra om hom of haar na Jesus te lei, sal jy dit kan doen?

Ek vermoed die meeste mense sal hier “ja” sê.

As iemand vandag na jou toe kom en jou vra om te verduidelik hoe sondevergifnis werk, sal jy weet wat om te sê?

As iemand vandag na jou toe kom en jou vra oor die doop van die Heilige Gees, sal jy dit vir die persoon kan verduidelik?

As iemand vandag na jou toe kom en vra hoe God betrokke is by die swaar in die wêreld, sal jy dit een vir een vir hom of haar kan uitpak.

Die laaste vraag is dalk onbillik, want dis nie ’n maklike een nie. Maar tog, hoe diep is jou geloof? Hoeveel verstaan jy werklik van dit waarin jy glo? Weet en verstaan jy die pilare waarop jou geloof in God gebou is?

Dit is jammer dat die volgende vers op baie van ons van toepassing is: 12Om die waarheid te sê, behoort julle eintlik self al mense te gewees het wat ander van die dieper dinge van die godsdiens kon vertel. Maar kyk net na julle: ’n mens moet julle weer van die begin af al die basiese dinge oor God en sy boodskap leer.

Baie van ons moes al eintlik aan die universiteit van geloof afgestudeer het, met ’n paar nagraadse grade, maar die probleem is dat baie van ons in die laerskool vasgehaak het. Ons moes al ander geleer en gehelp het, maar ons self moet nog deur ander gesleep en gestoot word.

Ek wonder wat die rede daarvoor is? Seker omdat ons geloof in God so laag op ons prioriteitslys is, dat dit nooit of bitter min tyd in ons dag kry. Dit is altyd die werk of die kinders of die vriende of iets anders. As ons moeg saans op die bed neerval, sê ons vinnig ’n gebed op en so in die gebed, raak ons aan die slaap.

Dis nie reg nie en jammer vir die reguit wees. God moet ’n groter prioriteit in ons lewe wees. Ons is God se hande en voete. Ons is Sy mond. Dis ons elkeen se roeping om Sy verlossingsboodskap daar buite te kry, maar ons self ploeter nog in die laerskool met die basiese verstaan van God en Sy boodskap.

Dalk moet ons elkeen hier ’n pen inkap. Dalk moet ons ’n afspraak maak om God se Woord te bestudeer om so te verstaan wat God vir Sy kinders in vandag se wêreld wil hê. Ons moet ons sterk maak met Sy kennis en dit dan aan die mense om ons gaan uitleef en uitspreek.

Sodat daar eendag van ons gesê kan word: Hulle het ander geleer van die dieper dinge van God se verlossende boodskap!

Teks
Hebreërs 5:11-14

Om oor na te dink
Praat die teksvers van jou?
Hoeveel tyd bestee jy aan God se dinge?
Wat moet jy anders doen?

Gebed
Vader, ek weet ek is te lig in die broek om U hande en voete en mond hier op aarde te wees. Help my om meer tyd in U Woord te spandeer, sodat ek ook ander kan help. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek