Op soek na ’n nuwe gemeenskap van gelowiges
Die Covid-pandemie het die wêreld baie groot laat skrik. Baie mense het gedink dis net ’n foefie en die wat hou van samesweringsteorieë, het natuurlik mal gegaan. Baie het gesê dis die einde van die wêreld. Sommiges het gaan wegkruip in afgesonderde plekke wat net vir die rykstes van die rykes toeganklik is. Die wêreld het vir ’n tydjie gaan stilstaan. Wat ’n goeie ding was, want ons was met ’n hoë spoed op pad na selfvernietiging.
Daar het wel baie goeie dinge uitgekom. Baie besighede het agtergekom hulle werknemers hoef nie almal elke dag na die kantoor toe te gaan om te gaan werk nie. Baie kan sommer van die huis af werk. Die verkeer het merkbaar minder geword met minder besoedeling en meer kwaliteit-tyd met die res van die gesin tuis.
Met die inperking, moes die kerk oor die wêreld ook vinnig ’n paar aanpassings maak. Die meeste, en dit sluit onsself by kruispad.com in, moes nuwe maniere kry om Sondag se erediens by die lidmate te kry. Sommiges het meer gesukkel as ander, maar so hinkepink is die boodskap via die internet uitgestuur. Almal het gewoond geraak daaraan.
Dit was ewe skielik lekker om Sondagoggend in jou nagklere op die rusbank of in die bed die boodskap te ontvang. Ons gesin het na die diens baie meer gesels as toe ons teruggery het van die kerk af. Ons het meer geweet wat in mekaar se lewens aangaan. Dit was goed.
Die landskap van die kerk het vir ewig handomkeer verander. ’n Studie toon aan dat ’n derde van die kerk se lidmate moontlik nie na die kerkgebou teruggaan na die pandemie nie. En tog is die gemeenskap van gelowiges so nodig. Dis eintlik ’n opdrag:
25Juis daarom moet ons gereeld bymekaarkom en nie sommer wegbly nie, al doen party van julle dit moedswillig. Laat ons mekaar se hande vat en mekaar daarmee help, veral as ons daaraan dink dat dit nie meer lank is voor die Here weer kom nie.
Ons het mekaar nodig. Dit is nie maklik om in die wêreld op jou eie te oorleef nie. Ons is te swak en het die ondersteuning van medegelowiges nodig. Soms word ons oë verblind en dan het ons juis ons maatjies nodig om ons te wys waar ons van die pad af geloop het en hoe ons weer op die pad moet kom.
Wanneer ons dan so in die nuwe manier van kerk leef, moet ons nooit dié gemeenskap van gelowiges uit die oog verloor nie. Ons moet nuwe maniere soek om nog steeds bymekaar uit te kom. Al kan ons dit nie in lewende lywe daar by die gebou doen nie, moet ons nog steeds probeer om met mekaar kontak te maak, al is dit digitaal.
Ons het mekaar so nodig. Ons het mekaar se insette in ons lewens so nodig. Ons het mekaar nodig om ons so nou en dan oor die vingers te tik, om te sorg dat ons op die pad bly. Al is dit op ’n anderse manier, maar ons moet ruimte maak om ons medegelowiges in die oë te kyk en mekaar te ondersteun om deur die wêreld te stap.
Teks
Hebreërs 10:19-25
Om oor na te dink
Hoe belangrik is gemeenskap van gelowiges vir jou?
Waar ervaar jy dit?
Hoe moet jy maak dat dit ’n groter rol in jou lewe speel?
Gebed
Vader, ek hoor so duidelik dat dit ’n opdrag is. Ek weet ek het my maatjies in die geloof nodig om my op die pad te hou. Help my om in hierdie nuwe wêreld nuwe plekke te vind waar ons mekaar kan aanraak en ’n verskil in mekaar se lewens kan maak. In Jesus se Naam. Amen.