Opgeskeurde oortrokke rekeninge
Mense is so gewoond aan ’n rekening – eintlik is ons mal oor rekeninge. Ek weet nie of dit is omdat ons belangrik voel as ons ons beursies oopmaak en Inkie Pinkie Ponkie kan speel om te kies met watter kaart ons gaan betaal nie. Visakaart, Masterkaart, Clickskaart, Woollieskaart of Edgarskaart. Jy noem dit en mense het dit.
Daarom gooi die groot kettingwinkels ons toe met spesiale aanbiedings as ons maar net ’n nuwe rekening sal oopmaak en ’n kaart by hulle sal vat. Ek sien nou die dag dat hulle jou R500 gratis sal gee met jou eerste aankope bo R2 000. Maar aan die einde van die maand is dit nag nella en alles kan nie betaal word nie.
Later leen ons geld om die ander rekeninge te betaal. Dié kringloop veroorsaak dat dit al hoe donkerder word en kort voor lank begin die winkel bel om al jou skuld in te vorder. Later is jy so vasgevang in die net dat jy maar boedel oorgee.
Mense verstaan skuld, want dit is die mensdom se geldeenheid. Ongelukkig is ons nie altyd wys genoeg om te besef dat ons baie versigtig daarmee moet omgaan nie. Baie van ons verstaan die swaar sleep van skuld wat ons maandeliks moet afbetaal. Skuld is egter nie ’n nuwe ding nie. Selfs in die Bybelse tyd was dit deel van die finansiële wêreld.
Daarom gebruik Paulus die skuld storie om die mense presies te verduidelik wat Jesus reggekry het:
14Wat gebeur het, kan ook so gestel word: ons elkeen het ’n rekening van al ons sonde en ’n rekening moet ’n mens mos betaal. Wat met ons moes gebeur oor al die skuld is uiters slegte nuus vir ons. God het egter hierdie rekening met al ons skuld uit ons hande kom vat. Nou staan die skuld nie meer teenoor ons naam nie. Ons rekening hang nou aan die kruis. Jesus wat ook aan die kruis gesterf het, het daardie skuld vir ons betaal.
Wanneer ek by laerskole optree, gebruik ek juis dié storie, want dit is so ’n verstaanbare storie dat selfs die kindertjies in Graad 1 begryp wat met ons sondes gebeur.
Ek het gewoonlik ’n swart boekie by my en dan vra ek dat die kinders vir my die sondes wat ander doen, opnoem. Soos hulle dit noem, skryf ek die sondes een vir een neer. Dan verduidelik ek dat daar nie ’n groot uitveër in die hemel is wat ons kan gebruik om ons sondes uit te vee nie.
Selfs nie een of ’n duisend of selfs ’n miljoen goeie dade kan een klein sondetjie van ons uitvee nie. Ons staan skuldig, ons boekie is volgeskryf, maar God het ons jammer gekry en ’n plan gemaak.
Hy het sy Seun aan ’n kruis laat sterf om te betaal vir al ons sondes. God het al jou sonde-rekeninge by die kruis neergesit en Jesus se bloed het dit van die rekening afgehaal, amper soos Jik wat ’n vuil kol uit ’n hemp haal. Dit is verby! Dit is weg! Daar is geen rekening meer teen ons naam nie.
Dit is ’n eenvoudige verhaal wat selfs ’n Gr 1-leerling kan verstaan. Hoekom maak ons dit dan so moeilik dat ons dit self nie wil glo nie? Hoekom leef ons ’n lewe met skuldgevoelens en waarom sleep ons so swaar aan die dade in ons verlede? Hoekom maak ons elke nou en dan weer die swart boek vol skuld oop as die rekening eintlik reeds deur Christus aan die kruis betaal is?
Dalk moet ons in die eenvoud van die storie bly en ’n stukkie papier neem en al ons sondes daarop neerskryf. Frommel dit dan op en gooi dit weg. Dit is verby! Jy hoef nooit weer daarna te kyk nie.
Gaan lewe nou soos iemand wie se rekening vereffen is.
Teks
Om oor na te dink
Glo jy regtig dat Jesus ook vir jou sondeskuld gesterf het?
Watter sondes staan nog in jou lewe regop?
Wat moet jy nou daarmee doen?
Gebed
Jesus, dankie dat U bereid was om te sterf sodat ons sondeskuld van ons weggeneem kon word. Ons sukkel om regtig te begryp wat U presies vir ons elkeen gedoen het. Daarom dat ons nog gereeld swaar sleep aan ons verlede. Herinner ons aan die prys wat betaal is. U bloed was genoeg om al ons sondes weg te neem. Amen.