Oplet in die klas
Ek was nie ’n goeie skolier nie. Ek en my vriende het op ons motorfietse rondgery, skool gebank en die bordspeletjie, Risk, gespeel. Aan die einde van matriek, het ek net-net matriek-vrystelling gekry.
Op universiteit het dit nie veel beter gegaan nie en ek rek my drie jaar BA-graad tot vyf jaar. Die daaropvolgende teologiegraad verkry ek darem in die voorgeskrewe tydperk, maar dit was te wyte aan die stoot en sleep van my drie slim medestudentepelle.
As dit nie vir hulle was nie, sou ek vandag nie daardie papier gehad het nie. Ek weet my ma het ook ’n groot hand hierin, want sy het haar knieë stompies gebid vir haar kleinste.
Ek sien my seun het dieselfde onwilligheid om te studeer as ek. As sy ma so met hom raas, draai ek maar net om, want ek sien myself so daarin.
Nou dat ek aan die kant van ouerskap staan, besef ek eers werklik wat ek gemis het. Ek kon soveel meer geweet het van baie dinge as ek net meer toegewyd in die klas was. Ek besef ek kon soveel minder foute gemaak het, as ek net dit wat daar te leer was, aangegryp en deel van my lewe gemaak het.
Baie is verlore kanse wat nooit weer hulle draai by my gaan maak nie.
Ek is nie vies vir my studentedae nie. Ek het dit baie geniet, maar as ek net meer in die klas opgelet het …
Die skrywer van Hebreërs is ook mismoedig met die lesers, want hulle val ook in die klas: 11Ek kan nog baie hieroor sê, maar dit is vir my moeilik om dit behoorlik by julle tuis te bring, omdat julle nie eintlik wil luister nie.
Die lesers trek skeef. Hulle neem nie hulle geloof ernstig op nie. Hulle besef nie dat hul geloof die grondslag, die fondasie van hul lewe moet wees nie. Hulle beur die heeltyd terug na die ou manier van lewe.
Die wêreld waarin hulle hul op daardie stadium bevind, is nie maklik vir kinders van God nie. Dis asof hulle ore net toegaan en hulle niks hoor nie. En dit is fataal vir God se kinders.
Ek besef dat die wêreld om ons ook nie heeltemal Jesus-vriendelik is nie. So maklik word ons wat Jesus volg, van die pad af gewink. Sonder dat ons dit agterkom, loop ons agter wêreldse dinge aan en besef dit nie. Ons het nie opgelet waar ons gaan nie en nou is ons op die verkeerde plek.
Ons moet bewustelik ons aandag terugkry en in die klas konsentreer. Ons moet luister na die Heilige Gees se stem, sodat die alarms kan afgaan as ons nie luister nie en ons ons eie pad begin volg. Ons moet ten alle tye in die klas konsentreer.
Teks
Hebreërs 5:11-14
Om oor na te dink
Waar konsentreer jy nie?
Waar moet jy meer luister?
Waar moet jy meer tyd spandeer?
Gebed
Here, vergewe my waar ek my konsentrasie verloor. Help my om die heeltyd te konsentreer en te luister na U stem. Lei my vandag orals waar ek gaan, amen.