Ore uitleen
Waarmee hou jy jou besig? Bou dit wat uit jou mond kom ander op of breek dit af?
Wel, hier’s ’n waarskuwing vir ons almal: 16Moenie jou tyd mors met allerhande praatjies waarvan God niks hou nie, want wie hulle daarmee besig hou, sal net al hoe verder van God afdwaal.
Gill (e-Sword) slaan die spyker op die kop met die verduideliking van die woorde van vals profete:
Die bediening van valse leermeesters is niks meer as ’n gebabbel nie. Dit is net ’n stem wat klanke maak en niks meer nie. Hulle monde maak wel klanke en spoeg woorde uit, maar daar is geen betekenis daar agter nie.
Dit is ’n stortvloed van woorde van nietigheid – soos groot borrels water wat groot lyk en baie geraas maak, maar wat niks in hulle het nie. Dit bevat niks anders as leë onbenullighede. Dit is niks meer as ’n nul op ’n kontrak nie.
Dié woorde van die vals leermeesters hou geen wins vir enige iemand in nie.
Wil jy na die woorde van vals predikers luister? Sekerlik nie!
Die probleem is dat daar vandag so baie verskillende leermeesters is dat ons nie meer weet wie is nou reg en wie is besig om die waarheid te verdraai nie. Dis asof die waarheid en die onwaarhede so verweef is dat ons nie meer kan onderskei tussen reg en verkeerd nie.
Manie (skuilnaam) sien dit ook raak:
Die Here is bekommerd oor Sy volk. Hulle slaap en die herders lei hulle nie na Sy wil nie. Die herders sus hulle aan die slaap en sê: “Vrede en rustigheid” terwyl daar min tyd is.
Die vyand loop rond soos ‘n brullende leeu op soek na die volgelinge van Jesus om hulle te verlei. Die vyand kom met mooi woorde en sagte geaardhede, hulle is nie nors en ongeskik nie. Hulle verdraai die Woord van God op klein subtiele maniere, bring leringe in wat nie 100% Bybels is nie en die mense loop soos blinde skape agter hulle aan.
Ons moet terugkeer na God se woord en vashou aan die waarheid. Ons moenie vir ons predikers en profete aanstel om ons ore te streel nie. Jesus self het baie gepraat oor die eindtyd en die vals profete/predikers. Sovêr ek kan sien, het elke apostel in hulle briewe gewaarsku oor die afvalligheid wat kom en die gevare en beproewinge wat vir ons voorlê.
Dit bly ons elkeen se verantwoordelikheid om seker te maak dat ons ons ore leen vir die regte woorde. Ons kan nie sê dat ons prediker darem soveel grade het en hy het immers by dié of dáái Bybelskool gestudeer nie.
Tog is dit nie so moeilik om seker te maak dat die waarhede wat by ons ore inkom, waar is nie. Gaan toets dit aan die Woord van God. As dit steeds nie duidelik is nie, vra die Gees van God om jou te help. Vra medegelowiges om saam met jou te bid en saam duidelikheid te kry as jy onseker is.
As ons ons ore aan verkeerde ouens uitleen, is die kans goed dat ons vêrder van God gaan dwaal. Daarom, maak seker en kry vrede dat jou ore ingestel is op die golflengte van God se waarhede.
Doen, luister en praat die waarheid.
Teks
2 Tim 2:14-19
Om oor na te dink
Ken jy Die Bybel goed genoeg dat jy kan onderskei wat waar en reg is …?
Gebed
Here, U Heilige Gees wat in my woon, is my Helper. Dankie dat ek weet as ek tyd maak om stil te sit en te luister, dat U my op die regte pad sal lei. Amen.