God se Woord in vandag se woorde

Pa of ma in geloof


Ek sit vir ’n uur lank en loer na my skerms. My vingers is lam en kan niks op die sleutelbord regkry wat nie weer dadelik weer uitgevee word nie. Ek soek na stories om te vertel, maar kry in die hordes in my arsenaal nie een nie. Met skok kry ek ook nie ’n storie in my eie lewe om te vertel nie.

Dis dalk hoekom die wêreld so lyk.

Nêrens, of soos die Engelsman sê, few and far between, is daar stories van mense wat tot bekering gekom het.

Ek wonder hoeveel mense is al pad af omdat ek nie Jesus se storie aan hulle vertel het nie?

Wonder jy ook soms so?

Paulus het nie ’n kans laat verbygaan nie. Paulus sit in die tronk. Ons weet hoekom. Maar so daag daar eendag nog ’n ou op, Onesimus. Ons weet nie hoekom hy daar opgedaag het nie. Maar ons kan ons somme maak. In die res van die brief lees ons dat hy ’n slaaf was. Hy het gedros en heel waarskynlik ook homself goed verryk deur sy baas se goeters te vat.

’n Mens oornag nie in ’n tronk sommer vir die lekkerte nie. Nee, jy is daar omdat jy drooggemaak het, goed drooggemaak het. Vir Onesimus was dit nie veel anders nie. Hy was aan die verkeerde kant van die gereg. Daarom het hy sy plekkie in die tronk verdien.

En gewoonlik het ons ’n aversie in diewe en moordenaars en mense wat aan die verkeerde kant van die wet lewe. Eintlik draai ons ons rug op hulle. Dis nie ons dam se ganse nie. En eintlik is dit so verkeerd. Die mense het juis hulp nodig. Hulle het juis mense nodig wat voor stap en die regte pad wys.

Dis wat Paulus doen. Toe Onesimus in die tronk opdaag, het Paulus hom oor Onesimus ontferm. Hy kon homself nie keer nie en moes Jesus se verlossende boodskap met hom deel. Onesimus ontmoet sy vader in geloof.

10My versoek gaan oor Onesimus, my kind in die geloof. Hier in die tronk het ek sy pa in die Here geword toe hy tot bekering gekom het.

Paulus se arbeid en saai in God se Nuwe Wêreld dra vrugte. ’n Arme, vaderlose kind, wat aan die verkeerde van die wêreld leef en rond dobber, kry rigting. Kry vastigheid. Hy word gered van die verderf. Hy ontvang Jesus se verlossing, maar meer nog. Hy kry, vir die eerste keer in sy lewe ’n pa. ’n Vader in geloof.

Ek wil jou uitdaag. Wil jy nie ook vir iemand ’n vader of moeder in geloof word nie? Daar is soveel ouerlose kinders wat ronddwaal. Hulle het foute gemaak. Hulle het verkeerde keuses gemaak en sal seker nog hordes sulke nommers aftrek, totdat hulle hul geestelike vader of moeder ontmoet.

Kom ons steek ons hand op. God sal hulle na ons toe stuur. Watch this space!

Teks
Filemon 1:8-13

Om oor na te dink
Glo jy dat jy iemand kan help?
Wie kan jy help?
Vra jy vir God om jou te wys waar jy ‘n impak kan maak?

Gebed
Vader, ek voel eintlik te klein vir die opdrag. Maar met U wat my krag gee, sien ek kans. Wys my. Help my om ’n verskil in iemand se lewe te maak. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek