God se Woord in vandag se woorde

Pap arms en moeë knieë


Wanneer die een uitdaging na die ander jou tref, kom jy by ’n punt wat jy net nie meer kan nie. Dit raak net te veel en dan moet jy handdoek ingooi. Dit is menslik en ons almal kom een of ander tyd by die breekpunt te staan.

Dit laat my nou dink aan een van die oefeninge in die weermag wat ek gehaat het. Jy moes jou geweer vashou met albei hande wat reguit voor jou horisontaal uitgestrek is, so lank as moontlik. Later bewe jou arms soos jy probeer om die geweer in die lug te hou.

Die ou wat dit die langste regkry, kan gaan rus, die res moet om ’n bos gaan hardloop en weer probeer. As jy om die bos hol, hang jou arms pap langs jou, want al die krag is uit hulle gewurg.

Die gehollery in full-kit, het verder sy tol op die res van die liggaam geëis en dis veral die knieë wat gereeld net wou ingee. Jou liggaam skree: Dis nou genoeg! en die korporaal skree harder vir jou om vinniger terug te kom, sodat hy jou om die volgende bossie kan jaag.

Die lewe se druk laat ’n mens ook so met pap arms en moeë knieë rondloop. Een of ander tyd val mense neer en dan kan hulle eenvoudig net nie meer aanhou nie. Die lewe het die laaste greintjie krag uit hulle uitgemergel en hulle sien net nie meer kans nie.

Die wêreld lê gesaai van die mense.

En dis ons wat hulle moet ophelp: 12Bemoedig dié wie se hande slap hang, help dié wie se knieë knik… (1983-vertaling). Dis ’n opdrag wat God vir elkeen van Sy kinders gee. Ek dink die wêreld lyk soos dit lyk, omdat baie van God se kinders met oogklappe deur die wêreld stap.

Hulle sien nie die nood van ander raak nie. Hulle sien nie die mense se arms langs hulle swaai nie. Hulle het doof geraak vir die gekreun van die mense se knieë. Wie moet hulle dan nou help? Wie moet hulle bemoedig?

En nou hoor ek baie sê, maar dis my arms wat pap hang en dis my knieë wat so raas. En dit mag die volle waarheid wees, maar my spin-instruktrise sê altyd dat jou kop baie sterker as jou liggaam is. Jou liggaam dink hy is op sy einde, dan is daar nog baie. Jou kop moet net saamkom en jou liggaam motiveer om verder te gaan en voor jy jou kom kry, het jy die laaste 15 minute voluit geoefen.

Die ander hou ons dop. En hulle trek krag by ons. Daarom moet ons ons kragtenk gaan vol maak by God, sodat ons weer ons arms kan lig en ons knieë kan optel. Dan kan ons ander ook ophelp en hulle vertel waar hulle hul tenke kan gaan volmaak.

Ons moet weer opgewonde wees om as kinders van God deel te wees van die wêreld. Ons moet met nuwe krag ons dag aanpak en orals waar ons gaan, nuwe lewe bring. Ja, ons moet 12 entoesiasties (wees) oor wat ons as Christene doen.

Teks
Hebreërs 12:12-14

Om oor na te dink
Waar druk dit?
Hoe kan jy by God krag kry?
Hoe kan jy ander help?

Gebed
Here, ek is moeg. Ek weet nie eintlik of ek nog kan nie, maar ek gaan probeer. Ek gaan by U inprop en weer die lewe by die horings gryp. Mag ander my sien en ook so doen. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek