God se Woord in vandag se woorde

Pêlla, God sal jou nie drop nie!


My vriend van laerskooldae af, word vroegoggend hospitaal toe gejaag. Die Covid-kettings wil net nie breek nie. Hy hoes sy longe rou. Sy suurstoftelling sak drasties, terwyl sy suiker in die hoogte inskiet. Hy is benoud en snak na sy asem.

Dis tipies wat Covid doen. Dit kom sit hier op jou bors en neem jou in beslag. Dis soos ’n reus wat eenvoudig net te groot is om aan te vat. ’n Mens voel so magteloos. ’n Mens voel alleen in die stryd en jy weet eintlik hier agter in jou agterkop dat jy dit nie op jou eie kan maak nie.

Angs pak jou en jy wonder of jy dit gaan maak? Gaan jy weer jou geliefdes sien of is dit nou die einde van die pad?

Ek dink as ’n mens op jou eie is, is dit net nog meer vreesaanjaend. As jy so alleen teen die aanvalle moet veg, waar sal ’n mens dan hoop kry?

Gelukkig weet ek dat my tjommie die stryd nie alleen hoef te têkkel nie. Behalwe al die versorgingspersoneel wat so mooi na hom kyk, het hy nog ’n groot voordeel: 5… God het mos gesê: “Ek sal jou nooit alleen los nie en Ek sal jou nooit in die steek laat nie.

Hierdie belofte het God keer op keer vir Sy volk gegee. God het vir Josua gesê dat, soos Hy by Moses was, Hy ook by hom sal wees. Hy sal hom nie alleen los nie. Hy sal hom nie in die steek laat nie. Selfs Dawid het elke dag aan die belofte vasgehou dat Hy nie alleen hoef te heers nie.

Daar in die hospitaal, waar my tjommie baklei, doen hy dit nie alleen nie. Ja, dit voel soms of die siekte of die uitdaging in die pad eenvoudig net te groot is en ons kragte te min om op te staan. Soms so min, dat ons nie meer kan baklei nie. Vir sulke tye is daar ook ’n belofte van God: “Jy sal dit nooit alleen hoef te doen nie, want Ek, die almagtige God, die Een wat jou geskep het, is by jou!”

Wat ’n wonderlike gemoedsrus vir my tjommie, vir sy geliefdes, vir almal is dit nie dat dit nie van hom alleen afhang om teen die siekte te baklei nie. God help. God is daar om sy hand vas te hou en hom krag te gee.

God los ons nie alleen om net in ons eie hande te wees nie, want op ons eie is ons krag te min. God los ons nie alleen om teen die aanvalle van Satan te baklei nie, want God ken sy skelmstreke en Jesus het hom in ieder geval aan die kruis oorwin. God los ons nog minder alleen in die wêreld met allerhande lekker versoekings, want God ken ons swakpunte en weet waar ons sal glip en gly.

Selfs daar waar sommige se vervaldatum aangebreek het, hoef hulle nie alleen deur die bangmaak-dood te stap nie. Selfs hier het Jesus oorwin en ken van. Saam-saam sal God en Jesus jou nie alleen los nie.

Dit maak vir ons wat om my tjommie se bed staan, makliker en ons kan saam sê: “Pêlla, jy’s nie alleen nie. Ons is hier om jou op te dra aan ons hemelse Vader en ons weet met alles in ons dat Hy daar by jou is en jou nie sal drop nie!”.

Teks
Hebreërs 13:1-8

Om oor na te dink
Voel jy soms alleen?
Glo jy dat God by jou is?
Leef jy so?

Gebed
Vader, ek moet bieg dat ek soms so alleen voel en nie weet hoe om verder te gaan nie. Dis goed om te hoor dat U my nie alleen sal los nie. Help my asseblief om dit te glo en so te leef. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek