God se Woord in vandag se woorde

Pornografie: Dis oorlog!


Dit is nogal interessant om die tendense hier by die Kruispad.com-bediening dop te hou. As daar ’n skryfstuk uitgaan wat mense bemoedig en deur die swaar help, word dit rond en bont aangestuur. Die gevolg is dat daar baie nuwe mense op al die verskillende platforms aansluit. Maar wanneer daar ’n skryfstuk uitgaan wat ons so ‘n bietjie op die vingers tik en wil help om van die verkeerde paaie af te kom, is almal tjoepstil.

Daarom wil ek jou uitdaag om hierdie ene aan te stuur na jou eggenoot, kinders, ouers, vriende, kollegas en wie ook al nog, want daar is soveel wat hier vasgeval het.

Kom ons maak net eers die prentjie oop:

    • Daar is oor die 25 miljoen pornografiese webtuistes.
    • 40 miljoen Amerikaners besoek gereeld pornografiese webtuistes.
    • Suid-Afrikaanse gebruikers is onder die top 20 lande wat Pornhub (die grootste pornografie-platform in die wêreld) besoek.
    • 1 uit 3 kykers is vrouens.
    • 70% van mans tussen 18 en 24 besoek die webtuistes gereeld in ’n maand.
    • 25% van alle soekenjin-versoeke is pornografies van aard. Dit is ongeveer 68 miljoen per dag.
    • 35% van alle aflaaisels (downloads) is pornografie.
    • 34% van internetgebruikers het ongewenste blootstelling aan pornografie gehad.
    • Daar is elke dag 116 000 soeke na kinderpornografie.
    • Die gemiddelde ouderdom waarop ’n kind die eerste keer met pornografie gekonfronteer word, is 11.
    • 20% van mans en 13% van vrouens het erken dat hulle by die werk aanlyn pornografie kyk.
    • Die gemiddelde tyd wat op dié webwerwe spandeer word, is ses en ’n half minute.
    • Die gewildste dag om porno te kyk, is Sondae.

(http://www.techaddiction.ca, https://www.roadtograce.net)

Dis oorlog! Mans en vrouens bloei. Mense gaan dood. Mense besef nie dat hulle vernietig word nie. Die lekker oordonder alles. Mense gee nie meer om dat huwelike uitmekaargeruk word nie. Stil-stil kom druk pornografie sy vuil sweterige hande in en ruk verhoudings, families en gesinne uitmekaar.

En min sê iets.

Die Bybel praat egter hard en duidelik: 3Vroeër het ons ook in dwaasheid geleef. Ons het ons glad nie aan God gesteur nie. Ons was op die verkeerde pad. Die sonde was ons baas. Ons kon eenvoudig nie genoeg daarvan kry nie. Die een afstootlike sonde na die ander was ons kos. Seksuele begeertes het ons vernietig.

Komaan mense! Kom ons maak ’n moewiese plan en los dit. Kom ons vat hande en help mekaar. Kom ons wees eerlik en takel ons probleem. Kom ons sak op ons knieë en vra vir God om ons tog asseblief te help.

Mag Sy genade groot genoeg wees!

Teks
Tit 3:1-2

Om oor na te dink
Sukkel jy soms hier?
Is daar areas waar jy jouself aan vorme van pornografie blootstel waarvoor jy dalk meer sensitief behoort te wees?
Wat kan jy doen?

Gebed
Vader, dinge wat nog nooit vir U aanvaarbaar was nie, het deesdae aanvaarbaar geword. Dis so maklik om in die gat te trap en te dink daar is geen skade nie, omdat ek dit nie kan raaksien nie. Maar ek wil U Woord vertrou en U riglyne volg en my lewe rein hou. Help my asseblief daarmee. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek