Pre-paid offers
Vir orde in die samelewing, moet daar een stel reëls wees. Elke ou kan nie sy eie reëls hê nie. Dis net ’n resep vir groot chaos. God het ook net een stel reëls. Almal word onder dieselfde reëls gekam, met geen uitsonderings of baandjies vir boeties of sussies nie.
In die Ou Testament was daar ’n hoop reëls en dit was geen maklike taak om binne die baan te bly nie. Ek dink die reëls was so erg, dat niemand op aarde dit kon regkry om nie êrens oor die tou te trap nie.
Gelukkig was daar darem ’n manier waarop jy van die sondes ontslae kon raak. Vir jou straf moes jy betaal. Of anders gestel, jy kon jouself loskoop van die bagasie wat stilletjies kom lêplek maak het in jou lewe. Jy moes vir God ‘n dier offer.
Daar moes bloed vloei. Die bloed het as’t ware die sondeskuld uitgevee en daar was weer ’n skoon bladsy. As daar nie bloed gevloei het nie, het die skuld van die sonde viervoetig vasgesteek en die mens ontneem van ’n vrye en vredevolle lewe.
Die probleem van hierdie plan om ontslae te raak van jou pakkie sonde, is dat jy dit gedurig moes doen. Jy kan nie pre-paid offers voor die tyd koop en sê ek offer sommer nou ’n paar lammers vir die sondes wat nog kom nie. Dit werk nie so nie.
Hierdie plan was nie so suksesvol en volhoubaar nie.
God maak toe ’n beter plan. Die bloed moes nog steeds loop. Om dit egter volhoubaar te maak, waar ’n eenmalige offer genoeg is en op ’n manier pre-paid is, moes dit ’n Goddelike karakter hê.
Jesus is opgeroep vir hierdie grootse taak. Soos ’n lam van ouds se bloed moes loop, moes Jesus se bloed loop vir die hele mensdom se betaling en finale afhandeling van hulle straf vir hulle sondes. Eenmalig en vir altyd, soos in pre-paid. Die verskil is dat die airtime of betaling nooit ophou nie. Dit is oorgenoeg. Maak nie saak wat jy aangevang het nie.
24Jesus is ook daar. Dit is Hy wat vir ons die wonderlike nuwe ooreenkoms met God gemaak het. Daar kom ons ook by Jesus se bloed wat vir ons baie meer gedoen het as die bloed van Abel.
Kan ek dan nou die airtime spandeer soos ek wil, want dit lyk dan nou of daar geen einde hieraan is nie? Nee, vir seker kan jy nie. Jy sien, as jy werklik besef hoe ongelooflik duur Jesus se bloed is, sal jy nie daarmee wil mors nie.
Uit dankbaarheid vir die grootse taak wat Hy vir my en jou gedoen het, Sy dure bloed wat Hy laat vloei het, kan ’n mens nie anders om jou doen en late in lyn te kry met Sy wil nie. Dan wil ’n mens mos lewe soos Hy dit van ons verwag.
Dis ’n groot boodskap die. Ons moet dit werklik oordink, al ken ons dit so goed. Ons moet maar ’n klip nader trek en gaan stilword, sodat die Heilige Gees ons kan wys waar ons dalk mors met Jesus se bloed en airtime. Laat ons ons lewe rig soos ons moet en vir ander wys wat Jesus se bloed vir my doen en beteken. Dalk stel hulle ook in Sy vergifnis belang.
Teks
Hebreërs 12:18-24
Om oor na te dink
Besef jy wat Jesus vir jou gedoen het?
Leef jy wat Jesus vir jou gedoen het?
Waar moet jy anders?
Gebed
O Jesus, hoe groot is U nie om as God vir my skurwe en skewe sondes aan die kruis te sterf nie! Ek eer U met alles in my vir U bloed wat moes vloei. Help my dat my dade in lyn daarmee kom. Amen.