God se Woord in vandag se woorde

Prentjies uit die hart


Wat mense nie aldag besef nie, is dat die manier hoe hulle optree, vir ander ’n kykie gee in hulle hart. Jou dade is direk gekoppel aan jou hart. Jy tree op soos jou hart vir jou sê. Ja, baie keer tree mense reg op, omdat hulle kop sê dis die regte ding om te doen. Maar soms, veral as emosies betrek word, tree mense uit die hart uit op. Soms is dit ’n mooi prentjie. Soms is dit nie.

Ek sukkel in die stoorkamer wat ook ons ateljee is waar ons radio-opnames doen. Ek sukkel om die opnames klaar te kry, want ek hak elke keer by dieselfde woord. Om dinge nog moeiliker te maak, bly die res nie stil in die huis nie en elke geluid wat gemaak word, word opgetel. Op ’n stadium het ek net genoeg gesukkel en ek storm uit.

Ek vermoed die prentjie het nie ’n mooi boodskap oorgedra nie.

Elke keer wanneer ons iets doen teenoor ’n geliefde, ’n vriend, ’n kollega of selfs ’n vreemde maak ons ons harte oop en ons vertel sonder woorde ’n storie.

Hoe lyk die stories wat jy met jou hart en optredes vertel?

Hier is ’n opdrag: 6Julle het Jesus Christus as Here erken en aanvaar. Tree nou op soos mense wat Hom regtig as Here ken.

Wanneer ek en jy vir Jesus liefhet, wanneer ons aan Hom behoort, raak Hy deel van ons. Hy leef in ons en ook in ons harte. Ander moet dan die prentjie van Jesus in ons harte kan sien. Dit gebeur deur die manier waarop ons die lewe leef. Dade is die venster na ons hart. Mense sien vir Jesus (in ons harte raak) deur die mooi manier waarop ons teenoor hulle optree.

Kom ek wys jou ’n mooi prentjie. Ek het al vertel van ’n afgetrede skoolhoof wat gevra is om te help met agt kinders wat op die asgate van ’n dorpie langs die see bly. Sy plan is om die kinders te help om vis te vang. Deur skenkings word elke kind toegerus. Vyf van die agt kinders is weer terug in die skool. Hy vertel verder:

“Laas Vrydag sit ons in die reën en koue langs die Goukou en visvang – as ek alleen was sou ek geloop het. Die 5 kinders van Melkhoutfontein wil egter net visvang, van die lekker koffie drink en koud kry, maar aangaan…

Uiteindelik het dit later beter geword. Ek het vir die kinders hulle warm vetkoek en vleis gegee en my verwonder hoe gelukkig hulle is met die bitter min waarmee ek hulle help.

Dan is dit die tyd wat die Here langs my kom sit en ek sien kans vir nog baie sulke dae.”

Mooi prentjie, nè.

’n Eenvoudige storie, maar die prentjie wat ons in die hart sien, is iemand wat Jesus Christus as Here erken en aanvaar. En so optree. ’n Mooi prentjie. ’n Lekker prentjie. ’n Prentjie wat ons wêreld daar buite so nodig het.

Die noodgedwonge vraag aan ons elkeen is of dieselfde prentjie deur die venster van ons dade skyn? Ons ken mos vir Jesus. Ons glo mos in Hom. Hy woon mos al lank in ons hart.

Hoe lyk die prentjie van jou hart deur die venster van jou dade?

Skrifgedeelte

Kolossense 2:6-8

Om oor na te dink

Hoe lyk die prentjie van jou hart deur die venster van jou dade?

Sien mense dat Jesus daar woon?

Waar moet jy anders begin doen?

Gebed

Jesus, U is deel van my. Ek glo met my hele hart aan U. Help my om my dade in lyn te kry met my geloof. Help my sodat ander U sal sien in my dade. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek