Prestasie-gebaseerde Christenskap
Ek raak vanoggend stil en bid sommer vir die kinders. Vir elkeen se behoeftes. Ek bid ook vir Renata en vra dat die roeping wat God vir haar het, vir haar sal duidelik wees en dat sy dit sal najaag.
Ek bid ook vir myself en my roeping en ek bid veral dat ek God se Woord duidelik en reg sal verstaan en ook so in my roeping om God se Woord in vandag se woorde 100% suiwer oor te dra.
Ek vermoed laasgenoemde bekommernis is weens ’n e-pos wat ek ontvang het van iemand wat sê hulle stem nie saam met my dat die hemel gaan vergaan nie. Ek gaan kyk na die stuk en besef dat daar het ‘n e afgeval van die woord hemel.
In plaas daarvan dat daar staan dat die aarde en hemele ook eendag tot ’n einde gaan kom, staan daar nou dat die hemel, God se woonplek waarna ons almal eendag op pad is, tot ’n einde gaan kom.
Dis natuurlik nie waar nie. God se hemel sal nooit ophou bestaan nie.
Ek besef hoe maklik kan daar ’n fout kom, deur net een letter nie by te voeg nie, gee dit ’n heel ander betekenis. Ek is dankbaar vir die leser wat erns maak met sy geloof en nie sommer alles vir soetkoek opeet nie.
Dis eintlik elke liewe kind van God se verantwoordelikheid om seker te maak dat hulle nie die verkeerde koek eet nie. Elkeen van ons ’n het verantwoordelikheid om seker te maak dat ons nie deur geestelikes in verkeerde rigting gelei word nie.
9Moenie luister na allerhande verkeerde dinge wat jou op ’n dwaalspoor kan bring nie. Jou geestelike lewe kry krag uit die onverdiende goedheid van God; nie uit al die spesiale kosse en eetgebruike nie. Hierdie gebruike help ’n mens eintlik niks nie.
Die gehoor van Hebreërs kom uit ’n streng tradisie van kosse wat hulle mag en nie mag eet nie. Vir sommige van hulle het hierdie wette soveel gewig gedra, dat hul geloof hierin gesetel was. Hoe meer jy jou gehou het aan die wette, hoe sterker was jou geloof. Dis asof jou geloof in stand gehou is deur jou eetgewoontes of jou geloof gevorm is deur die kos wat jy eet.
Eintlik raak dit dan belaglik. Die heeltyd wil hulle iets doen, iets reg lewe of juis iets nie doen nie om te kwalifiseer. ’n Vriend van my praat van ’n “performance-based Christianity”. Onthou, ons kan niks doen om ons plekkie in die hemel te verseker nie.
Jesus se sterwe aan die kruis het dit vir ons moontlik gemaak om die hemel in te gaan en ja, die hemel sal nooit opraak nie. Nog minder hoef ons te werk (of te eet!) vir ons plekkie in die hemel. Jesus se kruisdood het die sondeskuld wat ons hier op aarde bymekaarmaak, afgeskryf.
Ek en jy moet sekermaak dat ons die regte waarheid aanhang. Ons moenie toelaat dat die geestelikes waarna ons luister, vir ons op verkeerde paaie lei nie. Ons moet weet en bly glo dat ons geloof krag kry, nie in ’n performance-based Christianity nie, maar slegs uit God se onverdiende genade.
Dankie tog daarvoor!
Teks
Hebreërs 13:9-16
Om oor na te dink
Weet jy of jy reg glo?
Hoeveel speel werke ‘n rol?
Wat versterk jou geloof?
Gebed
Vader, soms twyfel ek of ek genoeg doen om in die hemel te kom. Ek besef dat hierdie denke nie reg is nie. Dankie dat Jesus se sterwe aan die kruis genoeg is. Dit maak my vry en ek bekommer my nie meer nie. Amen.