God se Woord in vandag se woorde

Puik! Sonder voorbehoud – Romeine 12:9-21


Kliek hier om die teks te lees: Romeine 12:9-21

Op Facebook vra iemand die vraag: “Wat is die pittigste antwoord wat iemand al ooit vir jou gegee het as jy hom of haar gevra het hoe dit gaan.” ’n Vriend van my pa, Kobus Victor, antwoord toe. “My oorlede vriend, Gerjo van der Merwe (dis nou my pa) het altyd gesê: Puik! Sonder voorbehoud!”

Dis nogal vir my mooi.

Wanneer Paulus vir ons wil leer hoe ’n kind van God behoort op te tree , dan is dit amper net so: wees lief vir ander mense, sonder voorbehoud. Of soos die Engelsman sê: with no strings attached. Wees vir alle mens lief asof dit familie is. Wees vir mense lief net soos ouers hulle kinders liefhet.

Toe ons kinders nog klein was en hulle raak vir ’n splitsekonde soek in die Mall, raak ’n mens yskoud van die skrik. Sê nou maar net my kind is ontvoer! Jy begin woes rondhardloop en soek terwyl jou kind rustig by die speelgoed rak staan. Dis liefde wat ’n ouer so halsoorkop laat reageer.

Dis dié broederlike liefde wat ons vir alle mense moet hê, sê Paulus. 10Julle moet mekaar soos eie broers en susters liefhê. Behandel mekaar met groot respek en agting.

Wat met ander mense gebeur, moet op ons hart druk en wanneer dit nie goed gaan nie, moet ons hart ook in trane uitbars van die seer en ons dwing om iets daaraan te doen.

Ek weet waar ek kan aanklop as daar nood is. By my broer en my susters. Hulle sal alles los en eers help, want broederliefde maak elke keer so.

Dit is hoe Christene se liefde moet lyk teenoor al die ander met wie ons elke dag in aanraking kom. Ons moet respek hê vir ander se manier van doen, al verskil dit. Liefde skep ruimte waarbinne ander veilig kan wees en waar ander nie bang is vir seerkry nie. Liefde is wanneer kinders van God wil hê ander moet goeddoen. Ware liefde is bly as ander ’n nuwe kar kan koop, al kan jy self nie ’n nuwe kar koop nie. Ware liefde is bly as ander in ’n groot huis bly, al kan jy nie. Ware liefde is bly as ander die een stuk genade op genade ontvang, al het jy gedink dit is ’n slaggie jou beurt.

’n Christen is lief vir ander, selfs vir sy vyand sonder om reëls en regulasie daaraan te koppel. As jy dit doen, sal ek jou liefhê. As jy dat doen, kwalifiseer jy vir my liefde. Nee! Paulus sê dat ons liefde oor grense moet gaan. Ons liefde vra nie vrae nie en wag nie vir regte antwoorde voordat ons in aksie kom nie. Nee! Ons liefde is sonder voorbehoud.

So het ons by Jesus geleer en gesien. Toe God met Jesus gepraat het oor aarde toe kom, het Jesus nie gesê dat Hy dit met graagte sal doen, maar net vir die goeie mense en die wat binne die reëls bly nie. Nee, sonder voorbehoud het Jesus vir alle mense, juis ook vir groot sondaars soos ek en jy na die aarde toe gekom. Liefde sonder voorbehoud.

Ek weet dis nie maklik nie. Ons almal sukkel daarmee. Ons liefde vat net so plek-plek grond daar waar dit maklik is, daar waar mense dit verdien, daar waar mense soos ons is. Maar hier hoor ons dat ons liefde verder moet gaan. Ons liefde moet oop bars daar waar dit nie verdien word nie. Ja, sonder voorbehoud moet ons liefde uitdeel, want dit is presies wat Jesus gedoen het.

Die werk van ’n Christen word liefde genoem. Onbaatsugtige liefde. Sonder grense. Sonder voorbehoud.

Om oor na te dink

Waar moet jy die grense afbreek?

Waar moet jy liefde gaan saai?

Waar moet jy die voorbehoud afbreek en net liefde gee en gee en gee.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek