Rats wegspring, aikôna
Die voordeurklokkie lui. Ek staan traag op van my lessenaar. Ons voordeur het glas in en ek kan sien wie by die hek staan. Toe ek opmerk dat dit iemand is wat ek nie ken nie, spring ek rats na regs, sodat die persoon my nie sien nie.
Dis heel waarskynlik weer iemand wat kom bedel.
Ek staan ’n tydjie daar en loer later stadig om die draai. Ek is net betyds om te sien hoe die persoon omdraai en wegloop. Tevrede dat ek hierdie ene ’n mis gegee het, stap ek terug na my studeerkamer.
Ek het net gesit, toe begin my gewete met my op hol gaan. Dit help nie veel dat ek begin wonder wat Jesus sou gedoen het nie. Ek besef ek sal ’n plan moet maak. Ek kan nie so rats wegspring vir my verantwoordelikheid teenoor mense in nood nie en ja, die meeste van ons doen so.
En wanneer ek dan stil word en my stukkie vir die dag lees, laat sak ek my kop nog verder in skaamte. Hierdie volgende gedeelte is nie ligte musiek nie en ek daag jou uit om toe te laat dat dit ook met jou woel:
15Sê nou daar is in die gemeente ’n mede-Christen, man of vrou, wat nie klere het om aan te trek of kos het om te eet nie. 16Een van julle sê vir die arme man of vrou: “Ek sien dit gaan sleg met jou, maar ek wens regtig dat dit sommer gou beter sal gaan. Ek hoop jy kry iets om aan te trek en kos om te eet.” Nadat hy dit gesê het, draai hy net daar om en doen nie ’n steek verder om te help met wat die arme man of vrou nodig het nie. Wat het al hierdie woorde nou miskien gehelp? Net mooi niks nie.
Baie keer doen ons dieselfde. Ons sien die mense in nood en doen soos ek en spring rats weg om nie gesien en gekonfronteer te word met gaan ek help of gaan ek nie help nie.
Ander kere is ons te laat en as ons weer sien, het ons in die vangnet getrap en moet ons die noodstorie aanhoor. Terwyl hulle hul storie vertel, begin ons klaar aan ’n verskoning dink.
Die buurtwag sê mos ons moenie kos gee nie, want dit druk ’n paal in die veiligheid van die buurt se wiel. En kort-kort post hulle nog van die kos wat mense gegee het, wat onder ’n bos ingegooi is.
Sommige kere luister ons mooi alles en dan sê ons sterkte ons hoop hulle word êrens gehelp en dan maak ons die deur saggies toe, draai ons rug en loop ongesteurd terug.
Dis ’n moeilike een die. Ek weet die buurtwag het ’n punt beet, maar waar eindig my verantwoordelikheid, of eerder waar begin dit? Daar is baie planne wat ons kan maak.
Ek het gehoor van die winkel op die hoek wat koopbewyse vir ’n bord kos verkoop. Ek gaan ’n punt daarvan maak om vandag daarvan te gaan koop. Maar weer rats wegspring? Aikôna.
Teks
Jakobus 2:14-26
Om oor na te dink
Waar is die nood om jou?
Doen jy iets?
Wat kan jy doen?
Gebed
Vader, ek weet nie hoekom ek so sukkel om U hande en voete orals te wees nie. Help my om bereid te wees om ander se nood raak te sien. Help my om iets daaraan te doen. Help my om nie my rug daarop te draai nie. In Jesus se Naam. Amen.