Red ’n lewe
Ek is bevoorreg om te kan optree by ’n verskeidenheid van jeugorganisasies. So staan ek voor ’n gehoor van ’n paar honderd hoërskool-kringleiers. Hulle is die hele naweek op ’n kamp om opgelei te word om leiers in ’n skole te wees en ander te help om hul pad deur te lewe oop te kap. Dit is ook hulle taak om God aan die ander “bekend te stel”.
Vandag is dit nie maklik nie, want die ondersteuning van die skool en onderwysers is nie noodwendig daar nie. Inteendeel!
Terwyl ek by een van die optredes besig was, stop ek skielik, want ’n groot dankbaarheid sak op my neer vir die kinders wat bereid is om hul kruis op te neem en te doen wat op hul hart druk.
Ek sê op my skewe manier vir hulle dankie dat hulle bereid is om op te staan. Bereid is om die main peanut-status neer te lê en eerder ten spyte van kyke en teenstand hul roeping uit te leef.
Dit is so ’n groot verantwoordelikheid, sê ek vir hulle, want êrens is daar kinders wat swaar sleep en nêrens heen het om te gaan nie. Daar is kinders wat op die rand van ’n afgrond staan. Daar is kinders wat snymerke onder hul moue wegsteek. Daar is kinders wat met ’n hoop vraagtekens rondloop. Daar is kinders wie se liefdestenke dolleeg is.
God het elkeen van die leiers geroep om sy hande, voete, ore en mond te wees om vir elkeen van die wat soek en sukkel en swaar sleep ’n anker, ’n lig te wees.
Wat ’n groot voorreg! Wat ’n groot verantwoordelikheid!
3Nou, op presies die regte tyd het God hierdie goeie nuus aan my kom bekendmaak. Hy het ook vir my gesê om dit aan ander mense te gaan oorvertel. En wat ’n wonderlike werk is dit nie om te preek dat God ons Verlosser is nie!
Jip, nou is presies die regte tyd dat hulle daar in die skool en op die universiteit of by die werk hierdie goeie nuus moet gaan versprei. God is die enigste antwoord op al die probleme. Hulle het die antwoord en hulle kan ‘n groot verskil in ander se lewens maak. Hulle kan selfs lewens red.
Ek wys vir hulle ’n nuusberig van Netnuus: Tot 20% van hoërskoolleerlinge in SA het al probeer om hul eie lewe te neem. Ek laat die eerste twee rye opstaan, want dis so plus-minus 20% van die groep. Ek sê: “Dit is 20% van julle. Dis hoeveel kinders uit ’n groep soos julle al probeer het om hulle eie lewe te neem. Dink net hoe baie is 20% van julle skool …”
Hulle snak na hulle asem.
“Ja, julle kan ’n lewe red.”
Natuurlik is die opdrag nie net vir die kinders nie, maar vir elkeen van ons. Ook vir jou.
Nou is die regte tyd. Nou is die regte tyd om die wonderlike verlossende boodskap daar in jou omgewing te gaan uitleef. Dis nou die tyd om lewens te red!
Teks
Tit 1:1-4
Om oor na te dink
Waar kan jy ’n lewe red?
Wie se lewe is pad af?
Hoe moet jy maak om te begin?
Gebed
Here, ek weet U wil nie hê dat enige persoon verlore moet gaan nie. Gee aan my die moed om die goeie boodskap van U verlossing met ander te deel. Amen.