God se Woord in vandag se woorde

Regte feite oor God


(Sondag se preek se tema is Swaarkry: soms het jy swaarkry nodig om die lig te sien)

’n Professor stuur vir my ’n dokument aan wat hy ’n paar jaar gelde geskryf het “as ‘n poging om my geloofslewe te ‘verdedig’ op grond van my Christelike lewensbeskouing.” Dis ’n lywige stuk werk en ek moet hard konsentreer om te verstaan. Nie dat ek na ’n paar keer se lees alles verstaan nie! Hy haal ’n klomp groot name in die geskiedenis aan, wat baie energie ingesit het om ons Christelike geloof te verduidelik en te verdedig.

Baie van die intellektuele het heel waarskynlik begin by die vraag: Is wat ons glo reg? Vir jare het die manne met hul denke elke klip omgedop om seker te maak dat hulle reg glo. Die wêreld lyk soos dit lyk omdat mense agter elke Jan aanstap, sonder om seker te maak of die ouens op die regte pad is.

Ons moenie dinge glo, net omdat ons so grootgeword het en almal so sê nie. Ons moet seker maak dat ons op die regte pad is en met die regte boodskap in ons sak. Daarom die opdrag van Paulus: 1Titus, gebruik elke kans wat jy het om die regte feite oor God aan ander bekend te maak.

Maak seker dat jy die regte feite oor God het, voordat jy met iemand daaroor praat. Maak seker dat jy gereeld in God se Woord kuier, sodat die regte inligting oor God in jou kop vassteek. Selfs na die 17 bladsy-lange, indrukwekkende akademiese opstel, sluit die professor af:

Ten slotte, beveel ek aan dat elke leser van bostaande skrywe die volgende raad sal volg.

Lees gereeld die Bybel, memoriseer die sleuteltekse en kwoteer dit wanneer die aanslae van die vyande van die Christen jou versoek en aanval. Neem die skild van die geloof op en die swaard van die Gees (d.w.s. die woord van God). Raak kundig en behendig daarmee.

Dit is vir elkeen van ons wat kinders van God genoem word. Ons moet so gereeld in God se Woord woel, dat dit ons gedagtes en ons manier van stap deur die lewe verander. Dan sal ons al hoe nader aan Sy wil vir ons lewe kom. Ander sal dit raaksien en ook so wil wees.

Dan kan ons die tweede opdrag in die vers uitleef – om elke kans te gebruik om die ware feite oor God aan ander oor te dra. Daar waar ons werk, moet ons dit doen. Daar waar ons tussen ons vriende en familie is, moet ons nooit ’n kans laat verbygaan om God aan die hulle bekend te stel nie.

Onthou dat daar baie mense in die wêreld is wat nog nooit van God gehoor of gesien het nie. Ons weet nie wie hulle is nie, want hulle loop gewoonlik nie hiermee op hulle moue nie.

Leef die regte God daar buite. Leef die God wat mense van die swaar in die wêreld verlos. Dit is die regte ding om te doen.

Teks
Tit 2:1-5

Om oor na te dink
Het jy al die feite?
Hoe moet jy maak om dit te kry?
Wie om jou het dit nodig?

Gebed
Here, dit is nie maklik om oor U met ander te praat as ‘n mens nie gewoond is daaraan nie, maar ek wil ook nie skaam wees vir U nie. Heilige Gees, maak my asseblief dapper en help my om iewers te begin. Hou my ook asseblief op die regte pad. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek