God se Woord in vandag se woorde

Regterhand is byderhand in die gym: Laaste Kruispad vir 2014


Filippense 4:13

Hierdie is die laaste van 2014. Dalk so bietjie tong-in-die-kies, maar ’n groot boodskap vir nou en vir 2015. Geniet!

Toe ek op die treadmill klim, sien ek dat die woelige gym instruktrise hier langs my op ’n ernstige drafstappie galop. Ek kan sien sy is al ’n tydjie aan die gang. Ek groet beleef, soos my ma my geleer het. Ek is verbaas dat sy so rustig kan praat terwyl sy draf, maar sy groet ook beleef terug en laat val dat sy vir ’n maraton oefen. Ek kyk verbaas na haar spoed, want dit lyk vir my of sy sprints oefen vir die 100 meter.

Ek los haar dat sy rustig voort hol en ek begin met my ritueel. Nee, ek strek nie, want ek voel te selfbewus om so te maak. Dit lyk mos of jy ’n ding wil omstoot, maar jy kom nêrens nie. Nee, my ritueel is om my handdoekie om die treadmill se arm te hang, my musiek op my foon reg te kry en my oorfone in die middel van my ore te kry. Dit vat gewoonlik ’n tydjie, maar dan is ek gereed. Soos gewoonlik sit ek die spoed op 7.5 km/h. Net vinnig genoeg om ’n ligte sweetjie na 20 minute op die bolip te hê en stadig genoeg dat ek nie af voeter nie.

So na ’n minuut sien ek Regterhand beweeg stadig na die spoed knoppie. Wat wil jy nou doen, wonder ek amper hardop? Maar hy sê niks en gee die spoed knoppie so ’n tikkie na vore en die spoed glip 0.1 km/h aan.

“Gmf”, dink ek, “dis seker omdat die gym instruktrisetjie hier langsaan hol dat hy wil impress.”

Ek laat hom maar begaan, want ek is mos ’n man en ek is nie bang nie, maar toe ek weer sien Regterhand is op pad om nog ’n keer aan die hefboom te stamp, glip dit kliphard uit: Nee, is jy mal? Ons gaan af voeter!

Ek vermoed die mede gym-ers het verward na my kant toe gekyk.

Nou stap ek dat my bene sing. Weet jy hoe gaan dit lyk as die ou lyfie hier agter op die plankvloere neer dinges?

Ek wonder hoekom kyk die mense my so aan. Is dit omdat ek so hard met myself praat of is dit oor die snaakse geluid wat die arme treadmill maak?

Ek loer om te kyk of die instruktrisetjie my nie dalk ook gehoor het nie, maar dit lyk nie so nie, of is daai smile op haar gesig dalk omdat sy iets vermoed? Maar in die loer na die ander mense om my vang Regterhand iets groots aan. Nee, ek het dit nie gesien nie, net gevoel die aarde onder my is besig om aansienlik vinniger te beweeg. In die klou om bo te bly, gly my oë oor die klok: 8.0km/h!

Ek wil nog iets vir Regterhand toesnou, maar gelukkig besef ek die oorfone is op. Ek weet nie hoe hard ek praat nie en mompel net so skuins agtertoe, want sien, ek het nie nog ’n hand om agter te praat nie. Ek klou met albei hande aan die stang hier voor my vas. My kneukels is spierwit.

Ek probeer Regterhand se oog vang om so met die oog en die ken te mik na die spoed, maar ek kry geen reaksie by hom nie.

My hart klop nou woes, ek hoor sommer dat Hart nie in ritme is nie. Die pistons kry swaar en raas. Regterhand vat die selfoon in die hand en sit die klank net harder. Hy druk sommer altwee ore se oorfone nog stywer vas.

Gelukkig is dit goeie 80’s musiek. Nog gelukkiger, die tempo is vinnig en ek konsentreer om op die beat die een voet na die ander op die rollende rol band neer te plons.

Ek begin agterkom iets is missing, maar ek weet nie wat nie.

Ek begin sommer bid, maar konsentreer baie hard om nie hardop te bid nie. Ek bid oopoë.

My oë kyk na die skerm waar 30 ouens oor een bal baklei. Maar ek steur my nie daaraan nie. Ek is besig om self te baklei, met Regterhand, met my bene om net vinnig genoeg aan te hou. Alles is on the edge soos die Ingelsman sal sê. Ek sien al hoe die tannies moet knyp van die lag as ek hier af voeter.

Ek kom agter wat weg is. Dis my asem! My asem is weg! Ek hyg en suig en pomp met my maag ’n vakuum, maar ek sukkel man. Asem, Asem, waar is jy? Ek sien in my geestesoog hoe iemand met ’n kan suurstof hardloop en saggies die masker oor my gesig druk voor ek my oë geluidloos toemaak.

En toe’s daar ’n slag. ’n Pyn hier regs onder my maag. Dis my blindederm wie se gort nou gaar is! Hy pla juis so die afgelope tyd.

Asem! Waar is my Asem?

“Nee”, sê Regterhand, “dis nie Blindederm wat so kla nie, dis Dikderm. Hy’s dik van dik wees en om alles wat hier in my keelgat afgaan te moet verwerk. Dis die milt wat steek”, sê hy. Regterhand steek darem na ’n tydjie, toe hy sien ek kry swaar, sy hand uit en hou die milt so bietjie liefdevol vas.

My oog vang die klok. Sjoe, kan jy glo daar is al meer as 13 minute verby. In my army dae, amper 30 jaar terug, het ek laas soveel minute aanmekaar gedraf. Maar daarna nooit weer nie.

Ek vang myself dat ek begin glo in die moontlikheid om dalk die 20 minute eindstreep te maak, maar ek soek nog steeds vir Asem.

Ek dink dit was in die derde of voorlaaste minuut toe alle hel losbars. Jy sien, dis van die vrag wat eenvoudig net te swaar is vir die chassis. Alles is oorlaai. Dis toe Knie wat eerste strip. Ek vermoed dis die knieskyf wat geskuif het. Of nee, dalk in duisende stukkies gebreek het, aldus die pyn.

Ek skree op Regterhand om die nood knoppie te druk, maar hy weier. Ek skree vir Linkerhand om te red en toe hy half dom na vore tree, gryp regterhand hom vas.

“Nee”, skree hy. “Los! Die os sal in die kraal kom. Watch hom!”

In die laaste minuut kon ek sweer dat Hart se een kamer se piston gaan sease, maar met groot vreugde en ’n hoop dankbaarheid verslap die band onder my die haas.

Ek kon nie meer die tyd sien nie, want die sweet het oor alles gestroom.

Ek stap nooit die afkoel-minuut nie. Het dit net nog nooit nodig gehad nie. Maar nou het ek, want Asem is nog steeds soek.

Ek gee sulke lang treë om te maak of ek my spiere strek. Ek het gesien die ander mense wat weet, maak so.

Toe die band uiteindelik tot stilstand kom, vat ek langer as gewoonlik om af te klim. Stadig vat ek my handdoek en vir die eerste keer in my gym lewe gebruik ek hom reg: Ek vee sweet af. Ek is ordentlik en vee die sweet van die treadmill ook af. Later is die handdoek vol en ek stoot die sweet net rond. Dit lyk of die masjien in een van die Kaap se groot winters buitegestaan het.

Ek soek nog steeds na Asem.

Nou moet ek afklim. Ek loer om my, maar daar is nie eintlik iemand wat my staan en bekyk nie. Ek loop opsetlik verby die instruktrisetjie. Ek sê: “Dankie dat jy vir ons so bietjie energie gee.”

Sy smile en sê dis lekker om dit te mag doen. Ek kan sien sy is amper by die einde van haar maraton en sy sit die masjien so-effe vinniger…

Ek ry gewoonlik fiets vir 20 minute en gooi ’n paar gewigte rond, maar om verstaanbare redes is die aktiwiteite eers uitgestel tot verdere kennisgewing.

Ek bly soek vir Asem en besluit om maar in die stoomkamer te gaan soek. En terwyl ek so sit en warm kry en daar nog ’n liter of twee uit my tap, besef ek een ding: Vanoggend het Regterhand ’n stuk potensiaal wat hier binne my was, laat surface. Ja, ek stap nou al meer as ’n jaar en ’n half in die gym, maar my kop het nooit gedink dat ek die potensiaal het om te draf nie.

En op ’n manier begin ’n lekker gevoel oor my spoel. Dis Regterhand wat eerste vir Asem raaksien en liggies na Borskas toe wys. Rustig beweeg Borskas op en af.

“Hiert”, sê ek kliphard vir myself terwyl ek alleen daar sit. “Asem, bly om te sien jy is weer terug. Jy moes gesien het waardeur ons die afgelope 20 minute was.”

Terwyl ek so sit met ’n vet glimlag op my gesig, val ’n teksgedeelte binne-in my denke: Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee (Fil. 4:13). As dit nie vir Regterhand was wat met my kop gesmokkel het nie, sou ek nie geweet het van die potensiaal hier binne my nie.

Net so het jy ook ’n hoop potensiaal in jou om vêr meer te doen as waar jy nou sit. Dalk droom jy oor ’n beter werk of oor bevordering, dalk wil jy meer vir ander doen, maar jy wonder of jy die potensiaal het. Dalk sit jy in sak en as oor jou omstandighede, dalk lê jou huwelik aan skerwe en het jy klaar moed opgegee. Dalk is die lewe net te veel en jy het al gewonder of dit nie beter is om ’n vroeë vertrek kaartjie te vat nie.

Dalk is dit tyd vir ’n Kit Kat om net eers alles weer deur te kyk.

Daar is ’n Regterhand wat jou so graag wil help. ’n Regterhand wat jou wil help om daardie potensiaal wat jy nie eens weet jy het nie, ’n werklikheid te laat word. Glo in jouself. Glo dat God jou wil help om jou volle potensiaal te bereik, want jy is tot alles in staat met God se Gees in jou.

Mag jy in die feestyd weet dat jy tot alles in staat is, omdat God jou krag gee. Mag jy die krag gebruik om ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Mag jy opgewonde wees oor 2015 en weet dat jou God altyd by jou sal wees, dat Hy jou Regterhand sal wees!

Met my asem terug het ek tevrede onder ’n koue stort gestaan. Ek het gewonder oor môreoggend se opstaan en waar ek nuwe pyne gaan ontdek. Maar ek het geglimlag, want ek het geweet Regterhand is byderhand!

Om oor na te dink

Wat droom jy?

Wat is jou potensiaal?

Glo jy dat God jou krag gee?

Gebed

Heilige Gees, dankie dat U ook my Regterhand is en altyd byderhand is. Dankie dat U die jaar by my was en dat ek kan weet dat U ook in 2015 by my gaan wees. Ek het die potensiaal om ’n verskil in ander se lewens te maak, omdat U dit in my geplaas het. Help my om beskikbaar en bruikbaar te wees vir U in 2015. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek