God se Woord in vandag se woorde

Respek!


Elke naweek word die week se gebedsversoeke wat na Kruispad deurgekom het na honderde intersessors gestuur. Dit is velle en velle versoeke. Baie mense wat in die moeilikheid is. Baie daarvan as gevolg van ander se toedoen.

Ek wonder wat God doen as die mense so mors. Ek wonder hoe voel Sy hart as Hy sien een van Sy kinders verwoes ander se lewens. Ek wonder hoekom Hy nie ingryp nie.

Maar met ’n skok kyk ek oor my eie lewe en wonder waar het ek nie self te vinnig gelewe en te vinnig besluite geneem wat ander se lewens negatief beïnvloed het nie. So maklik maak ons keuses en doen ons dinge, wat ons selfs dink is reg, maar dan is die gevolge in ander mense se lewens nie so lekker nie.

Ons moet intensioneel probeer om binne die grense te leef. Ons moet intensioneel probeer om reg te lewe. Ons moet regtig probeer om goed te doen en ’n verskil in ander se lewe te maak.

Hier is ’n aanmoediging vir jou: 1… Hulle moet so leef dat ander mense groot respek vir hulle het. Ek en jy moet so leef dat ons respek van ander sal afdwing.

Vroeër jare het ons mos die WWJD (What Would Jesus Do)-bandjies gedra. Ek sien nou die dag ’n vriend van my dra nog al die pad syne. Ek het so-effe gesukkel met die bandjie, want dit was vir my net te hoërgraad. So asof die treë te groot was om te volg.

Dalk is hierdie respek-uitdaging nader en makliker vir my om te volg. Jy sien, ek het ’n goeie idee van wat respek in ander se oë afdwing:

  • Mense wat altyd mooi praat met ander, al stem hulle nie noodwendig saam met die ander een se standpunt nie.
  • Mense wat, al is hulle verskriklik moeg, nog steeds opstaan en vir die ander een ’n klip uit die pad rol.
  • Die motorfietsryer wat by die voetoorgang stop, van sy fiets afklim en die ou tannie oor die pad help.
  • Die besigheidsman wat van sy kosbare tyd gee om ’n ander sukkelende besigheid op te help.
  • ’n Seuntjie wat goeters op die straat verkoop om kos vir ander se verwaarloosde diere te koop.
  • My vriend wat vir die taxi wat voor hom indruk, plek gee, omdat hy baie meer mense vervoer as hy wat alleen in sy groot wa sit.
  • Die deurmekaar hare, IT ou wat rustig sit en vir ’n ou tannie wys hoe Facebook werk.
  • Die ou wat in die ry staan om bloed te skenk, want dis die regte ding om te doen.
  • Die ou wat swaarkry en nog steeds elke maand sy stukkie gee om ander se nood te verlig.
  • Die vrou wat vurig ’n plakkaat swaai en in opstand kom teen die mense wat ons wêreld en natuur so opfoeter.
  • Die ou oom wat op die lughawe slaap en vir sy aansluitingsvlug wag, waar hy pas teruggekom het van ’n paar maande in die sendingveld.

Hulle dwing respek af. Ons moet dit ook doen. Ons moet ook so lewe dat ander ons vir ons dade sal respekteer.

Teks
Tit 2:1-5

Om oor na te dink
Respekteer ander jou?
Wat kan jy anders doen, sodat ander jou respekteer?
Wat kan jy doen om die lewe vir iemand anders beter te maak?

Gebed
Vader, ek weet ek moet sommige dinge anders doen. Ek weet dat ek soms dinge doen wat nie by ander respek afdwing nie. Help my! Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek