Respek dwarsdeur die bank
Ons sonder ons af en vat die karavaan KwaZulu-Natal toe. Ek was nog nie daar nie en was erg verras deur die natuurskoon en hoe groen dit is. Ons het darem ’n ongelooflike land met soveel verskillende pragtige streke!
Ek is veral aangeraak deur die mense se vriendelikheid. Orals wil almal jou help en geen las is vir hulle te swaar nie. Jy sien net wit tande soos die mense vir jou glimlag.
Wat my die meeste aanraak, is die manier hoe hulle respek betoon. Elke keer as jy iets gee, of dit nou geld is by ’n toonbank of ’n papier wat jy moes invul, vat hulle met die hulle linkerhand aan hul regterarm. Dis hulle manier van respek aan jou betoon.
Ek sien dit elke keer raak en voel so verleë. Wie is ek nou om elke keer soveel respek van hulle af te ontvang. Ek wil ook graag vir hulle respek bewys, maar voel so onbeholpe.
Eintlik moet ons almal so ’n gebaar aanleer en moet ons vir almal wys dat ons respek vir hulle het. Of dit nou ’n belangrike man of vrou is en of dit nou ’n gewone of arm persoon is, ons wat kinders van die Here is, moet ten alle tye met respek teenoor almal optree.
Tog kry ons dit nie altyd reg nie. Kyk maar in jou eie lewe. Ons tree maklik mooi op teenoor mense wat gesag of aansien het of wie ons weet vol sakke het. Dan gaan ons sommer uit ons pad om die mense met respek te behandel.
Maar laat daar nou net iemand by die deur klop wat niks het nie. Dan klap ons die deur toe en sê hulle moet hulle loop kry. Nee, ek sê nie ons moet elke keer ’n paar rand in die hand stoot nie. Al wat ons moet doen, is om die persoon ook met respek te behandel.
Dis wat Jesus gedoen het. Jesus het nie mense op grond van hul status of hoe dik hulle beursie was, behandel nie. Hy het verby dit alles gekyk en hulle hart raakgesien. Seker die dat Hy so geneig was om met die arm mense te woel, want die ander se harte was dalk nie altyd so suiwer nie.
1My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie.
Die Griekse woord, prosōpolēpsia, wat hier vertaal is met “volgens hulle uiterlike beoordeel nie”, kan ook vertaal word met “met respek behandel”. Jy sien, wanneer ’n mens iemand met respek behandel, word jy nie beïnvloed deur hoe hulle uiterlike lyk nie.
Dis nie so maklik nie. Ons is geneig om mense wat goed lyk, vêr op die leer geklim het en iets reggekry het, maklik met respek te behandel, maar nie die wat sukkel en swaarkry nie. Hieraan moet ons werk, want ons wat in Jesus Christus glo, moet practise what He preached en almal deur die bank met respek behandel. Kom ons probeer.
Teks
Jakobus 2:1-7
Om oor na te dink
Het jy vir almal deur die bank respek?
Is dit vir jou makliker om vir sommige meer respek te hê?
Hoe kan jy verander?
Gebed
Vader, ek sukkel met die ene. Ek sukkel om vir almal dieselfde respek te toon. Help my asseblief hiermee. In Jesus se Naam. Amen.