God se Woord in vandag se woorde

Saai saad en oes


Pieter is in angs. Hy het weer ’n ding aangevang wat hom so die joos in maak vir homself. Hy het ’n tyd terug iemand ontmoet wat hom die lig laat sien het en toe gaan foeter hy alles op. Ai tog! Sy het hom weer geleer van ware liefde. Sy het hom selfs weer by die Here gekry en nou dit.

Jy sien, hy werk daar by ’n plek waar hulle vir ’n maand lank nie eens na drank mag kyk nie en die eerste aand wat die dranklig groen raak, was daar nie brieke nie en die een ding lei na die ander. Ai, man! Ek wou regtig nie. En dit nog onbeskermd ook.

Die gevolge is eindeloos, want Pieter voel skuldig, vuil, bekommerd oor sy gesondheid se status, vernederd, skuldig, teleurgesteld en sy selfbeeld lê op die sypaadjie vir almal om op te trap. Eintlik sê hy hy wil nou die plug van sy lewe trek, want alles is opgemors.

Ek kry vir Pieter so jammer, want hy het sy saad op verkeerde plek gesaai. Ek praat hom moed in. Ek bid vir hom. Ek help hom om te sien wat hy gedoen het en waar hy moet gaan regmaak. Ek probeer hom mooi laat verstaan dat ons vir God kan bid om te help met ’n wonderwerk hier en ’n wonderwerk daar, maar dat ons ook moet berus met die resultate van ons dade en die saad wat ons gesaai het.

God is genadig, maar ons oes wat ons geplant het. Paulus ken dit baie goed. Hy weet dat as jy al jou tyd en energie op wêreldse dinge uitgiet, jou oes soos die wêreld gaan lyk. Daarom waarsku hy die mense van Galasiërs: 7Moenie julleself bedrieg nie. God laat nie toe dat iemand met Hom spot nie. Dit wat jy plant, sal jy ook oes. 8As jy jou lewe gaan inplant op die terrein van die sonde, sal jy die dood as oes ontvang. Aan die ander kant, as jy jou lewe inplant op die terrein van die Heilige Gees, sal jy die ewige lewe as oes van Hom ontvang.

Dis baie eenvoudig, nè. Eintlik voor die hand liggend. As ons ons lewe gaan plant waar God nie is nie, gaan ons ’n goddelose lewe leef. ’n Lewe waar God nie is nie en dis nag. Klaar. Maar as jy na die stem van die Heilige Gees luister en toelaat dat Hy in jou lande ploeg, sal jy Geesvervulde vrugte dra.

As Pieter eerder net mooi gedink het aan wat die oes moontlik kan wees voor hy die eerste tree in die verkeerde rigting gestap het, sou hy net daar omgedraai het. Sy gedagtes sou hom vinnig uitgebring het by ’n oes wat nie so mooi is nie en wat hom skuldig en vuil laat voel, bekommerd oor sy gesondheid se status, vernederd, teleurgesteld en sy selfbeeld wat op die sypaadjie gaan lê vir almal om op te trap. As hy maar net op daardie oomblik toegelaat het dat hy op die terrein van die Heilige Gees loop, sou hy nie eens die eerste tree in die verkeerde rigting gegee het nie.

Ons kan onsself baie moeite, trane en verwyte spaar. God se dinge is nie kernfisika nie. Bly weg van die gladderige stoep van die duiwel. Daar val ’n mens te maklik. Saai jou saad eerder op heilige plekke. Die vrugte daar is mooi en vir baie om aan te smul.

Mag dit waar wees van ons elkeen.

Teks:

Galasiërs 6:1-9

Om oor na te dink

Waar saai jy jou saad?

Hoe lyk jou oes se vrugte?

Laat jy jou lei deur die Heilige Gees?

Gebed

Vader, ons maak so maklik droog. Soms weet ons ons is nou besig om droog te maak, maar dan kap ons net aan. Help ons om nie stupid te wees en te saai waar die saad nie in goeie grond val nie. Dit lei altyd tot die dood. Help ons om verantwoordelik te saai sodat ons die ewige lewe saam met U as oes kan ontvang. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek