Saam met ander op die leer
Paulus se passie staan op sy voorkop geskryf. Hy wil niks anders doen as om die evangelie uit te dra nie. Hy sal letterlik enige iets doen om te sorg dat alle mense met wie hy te doen het die vrymakende evangelie hoor. Hy is passievol dat die waarheid by almal uitkom. Daarom dat dit hom so ontstel dat daar sommige sogenaamde “profete” by die mense van Korinte rondsluip en die waarheid verdraai.
Paulus is eintlik bang om terug te gaan na die gemeente toe, want hy vertrou nie sy eie optrede nie. Hy is bang hy gooi sy speelgoed uit die kot en doen en se ’n paar dinge teen die manne wat sal veroorsaak dat hy sy naam saam met die speelgoed sal uitgooi. Hy gee so baie om vir die mense dat hy letterlik enige iets sal doen. Paulus sien hulle elkeen as sy kinders aan: 14… Ek wil niks van julle hê nie, behalwe natuurlik dat julle voluit vir die Here moet lewe. Dit is immers my plig as julle pa in die geloof om te sorg dat julle reg lewe. En soos ’n goeie pa moet ek ook sorg dat julle ’n groot geestelike erfporsie het. Maar sy passie hou nie hier op nie. 15 Ek is so lief vir julle dat ek bereid is om alles wat ek het weg te gee vir julle. Maar Paulus se liefde vir die mense is nog groter as dit: 15… Ja, ek sal selfs my eie lewe vir julle opoffer.
Sjoe, hier loop darem ’n dik stroom liefde.
Ek sit lank en wonder of ek bereid is om alles weg te gee vir ander mense. Mense wat nie eens altyd die regte dinge doen nie. Mense wat hoer en rumoer en hulle eie dinge doen. Ja, die waarheid is sorgvuldig aan hulle oorgedra en hulle weet wat reg en verkeerd is, maar tog maak hulle ’n keuse teen die waarheid en stap die verkeerde pad. Sal ek nie een of ander tyd die handdoek ingooi en sê: “Jammer boys, nou het ek genoeg probeer” nie? Ek het so baie moeite en energie en geld en tyd aan julle spandeer, nou trek ek vir eers die toue op. Stap julle maar aan op die pad na verderf. Stamp julle koppe, want nou is dit julle eie keuses wat julle daar uitbring.
Paulus is eenvoudig net té lief vir die mense om dit te doen. Hy sal enige iets doen. Hy sal enige iets van hom weggee. Ja, selfs sy lewe net sodat hulle eendag ook die erfporsie van God kan ontvang.
Ek sit weer lank en wonder of ek bereid is om my eie lewe te gee sodat ander skermunkels eendag hemel toe kan gaan. In die gesukkel om ja te sê, besef ek dat ek te veel klem lê op my aardse goeters en te min aan ander mense dink en die pad wat hulle stap. Die lewe het my geleer dat ek hard moet werk om bo-op die leer van die lewe te kom. Dit gaan net oor my en wat ek alles bymekaar moet maak. Ja, ek weet ek gaan hemel toe, want my saak met die Here is reg. Maar nou word ons hier gekonfronteer met die mense wat saam met ons op die leer van die lewe is. Waarheen is hulle op pad?
Is ek bereid om my posisie op die leer, met al my besittings, op te gee vir die mense wat saam met my op die leer klim? Hoe dik is my liefde vir die ander? Ek besef ek moet anders wees. Ek besef dat ek my oë moet oplig en fokus op die ander. Ek moet hulle in my visier kry en soos Paulus, ’n hart vir hulle ontwikkel. Ek moet vra dat God my sal help om tyd, geld en energie en ja, my lewe op te offer, ter wille van die ander mense wat saam met my loop. Ek is dalk die enigste kans vir hulle om die hemel te kan in.
Teks
Om oor na te dink
Wie is saam met jou op die leer?
Hoe lief het jy hulle?
Is jy bereid om jou posisie vir hulle op te gee?
Gebed
Here, ek besef dat ek te veel net my eie lewe in die visier het en nie eintlik ander mense raaksien nie. Here, maak my oë oop om ander raak te sien. Gee my ’n hart vir ander. Maak my passievol om almal met wie ek in aanraking kom uit te nooi om deel te hê aan U genade en liefde, sodat ons mekaar eendag weer saam in die hemel sal sien. Amen