God se Woord in vandag se woorde

Saam met die span


God se drie-eenheid is nie altyd vir ons maklik om te verstaan nie. Hoe kan een persoon, drie persone wees? Hoe kan drie persone dan nou eintlik net een wees? ’n Eenvoudige verduideliking (wat effe te kort skiet) is om water te gebruik. Water kom in drie vorme voor: ’n vaste stof (ys), ’n vloeistof (water) en ’n gas (waterstof). Dit is dieselfde produk, maar kom in verskillende vorme voor.

God is een God wat in drie verskillende vorme voorkom en die een God is ook as drie persone betrokke by die mens se verlossing.

God die Vader is die liefdevolle vader. Die Een wie se trane loop vir Sy kinders wat die pad na Sy huis mis. Hy besef dat die kinders se oë verblind is en nie die pad kan sien nie. Hy besef dat die kinders nie in staat is om die pad na Hom op hulle eie te vind nie. Hy besef dat die sonde waarin hulle gebore en ontvang is, hulle weglok van Sy pad.

Dit breek Sy hart.

Daarom maak Hy ’n plan om die verlossingswerk uit die mense se hande te vat. Vir hierdie taak het Hy egter iemand nodig wat nog nooit gesondig het nie. Hy het ’n perfekte offer nodig, ’n offer wat net een keer geoffer hoef te word.

Hiervoor steek Jesus Sy hand op. Hy is die perfekte offer. Die Een wat nog nooit een stukkie sonde gedoen het nie. Hy sal die straf gaan dra vir al die ander mense se sondes. Dan sal die mense die pad na God kan raaksien. Dan sal hulle kan kies om na hul Vader te gaan.

Die derde persoon, die Heilige Gees, was ook betrokke by die groot verlossingsdaad van God drie-enig. Hy was Jesus se vennoot. Hy was die Een wat Jesus gehelp het om die keuse te maak en Hom deur die hele pad bygestaan het. 14… Die Heilige Gees het Jesus gelei om Homself aan God te offer al het Hy niks verkeerds gedoen nie.

Die proses om die mens uit sy penarie te red, was nie so eenvoudig nie. Dit was ’n groot proses wat slegs deur ’n drie-enige God reggekry kon word. Hoe wonderlik is dit nie? Hoe groot is dit? Vir my en jou wat die een sonde na die ander aanvang, sodat ek en jy die pad na ons Vader kan raaksien en maklik daarop kan klim. Só kan ons die hemel instap om vir altyd saam met die drie-eenheid te leef.

Dit was ’n spanpoging. Elkeen van die drie-eenheid het ’n rol gespeel om hierdie grootse taak suksesvol uit te rol.

Vir ons elkeen om die lewe suksesvol deur te stap, moet ons besef dat ons ook die span nodig het. Ons het God nodig om Sy beloftes aan ons waar te maak. Ons het vir Jesus nodig om vir ons in te staan daar waar Hy langs God sit. En dan het ons die Heilige Gees nodig om ons te lei, net soos Hy vir Jesus gehelp het om mens te word, deur die lewe te stap en aan die kruis te sterf.

Ons is te lig in die broek om op ons eie deur die lewe te stap. Besef dit en doen iets daaraan. Maak die Groot Span, die drie-eenheid deel van jou daaglikse lewe. Jy sal anders wees. Die mense rondom jou sal anders wees.

Teks
Hebreërs 9:13-14

Om oor na te dink
Hoe lyk jou prentjie van die drie-eenheid?
Is Hulle deel van jou span?
Hoe kan jy maak om Hulle ’n groter realiteit in jou lewe te maak?

Gebed
Vader, Seun en Heilige Gees, U is ’n wonderlike span. Ek het U so nodig om deel te wees van my span, want op my eie maak ek dit nie. Help my om elke dag U meer deel te maak van my lewe. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek